20
Mon, May

Pastries
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Vir almal wat tot baie onlangs Dinsdae-aande voor die TV vasgenael gesit het om te kyk hoe Rustenburg se jongste ambassadeur (Thys Hattingh) op MasterChef SA vaar en of hy dan werklik gaan wen, is dit seker nie nou meer nuus nie dat Thys dit tot by 8ste in die reeks gevorder het en toe tot ons reuse teleurstelling uitgeval het.

Niemand sal egter seker verskil dat Thys merkwaardig presteer het en sonder twyfel die Platinastad se naam hoog gehou het nie. Die meeste van Thys se verpligtinge na die MasterChef-reeks is nou afgehandel en ons het Thys met groter vrymoedigheid genader om vir ons een van sy gunstelinghappies te maak – ons het die voorreg gehad om self hieraan te smul en nee, ons gaan nie die kat uit mou laat nie – (al is dit hond-lekker!) – probeer Thys se “tertjies” gerus self en jy sal verbaas wees… Die tertjies is maklik en vinnig en sal jou in ‘n oogwink na ‘n bobaaskok laat lyk!

 

 

 

Bestandele:
Crème Patisserie 
2 x Eiers
3 x Eiergele;
5ml Vanilla Paste
500ml volroom-melk
70g Maizena
100g Strooisuiker

Peertertjie
1 x Rol “Ready made Puff Pastry”
4 – 6 x Pere – geskil en in fyn skywe gesny;
5ml Vanilla Paste
70g Strooisuiker
Sap van ‘n halwe suurlemoen

Metode:
Voorverhit die oond op 180°C. Bring die melk in ‘n dikbodempan tot kookpunt en draai dan die hitte na laag. In ‘n mengbak, klits die eiers, eiergele, suiker, vanilla en Maizena tot romerig en glad. Gooi die warm melk stadig oor die eiermengsel en sonder om op te hou klits. Gooi die mengsel terug in die pot op die stoof oor ‘n lae hitte en roer met ‘n houtlepel. As die patisserie gereed is, sal dit die agterkant van die lepel bedek en as jy jou vinger daardeur trek, sal die streep vir ‘n rukkie duidelik bly…

Los eenkant om af te koel. Kry ‘n mengbak en plaas die fyn gesnyde pere, lemoensap, vanilla en strooisuiker, meng liggies met die hand en maak seker al die pere is bedek met suurlemoensap sodat dit nie bruin word nie. Los die pere in die yskas vir 10 -15min. Rol die deeg oop op ‘n oppervlak bestrooi met meel. Rol die deeg liggies uit en moenie te hard druk nie. Sny die deeg met n skerp mes in die grootte wat jy verkies.

Neem nou elke stukkie deeg en met n skerp messie maak jy ‘n raampie om die tertjie van so 1cm dik aan alle kante. Neem nou van die patisserie en smeer ‘n dun lagie binne-in die raamwerk van elke tertjie, pak dan die dungesnyde pere in ‘n mooi patroon bo-op die tertjie. Maak seker dat jy nie van die patisserie of die pere op die raam van die deeg sit nie anders gaan dit nie oppof (rys) nie. Bak vir so 15 -18 min tot dit gaar en mooi bruin bo-op is. Bedien met ekstra patisserie en vars aarbeie en geniet…