20
Mon, May

Pastries
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Vir die volgende twee weke kuier ons by Alet Stanford van Buffelspoort Eco Park wat in die hele Rustenburg-omgewing baie bekend is vir haar “ontroosbare” lekker Spinasie & Feta Quiche. Hierdie is ‘n goeie voorbeeld van een van daardie smaaklike, maklike en uiters bekostigbare geregte wat in ‘n japtrap gemaak kan word as jy weet die familie of vriende kom kuier en jy wil graag ietsie voorberei wat ietwat van ‘n verrassing is, maar ook maklik om te maak sodat jy nie die hele tyd in die kombuis hoef te staan nie. Natuurlik moet dit ook baie vullend wees sodat jy nie ‘n klein rukkie weer hoef te sien dat die gaste oor hul magies vryf nie. 
By Alet was ons regtig baie gelukkig dat ons behoorlik kon wegval aan dié Quiche maar ook bederf is met ‘n lekker nagereg waaroor ons volgende week gesels. Alet maak haar Spinasie & Feta Quiche soos volg:

Bestanddele
Deeg/kors 
100 gm botter of margarien
250 ml koekmeel (1 koppie)
125 gm geroomde (gladde) roomkaas
rooipeper & sout na smaak

Voorverhit die oond tot 180 °C. Meng alle bestanddele tot deeg in ‘n voedselverwerker of elektriese menger. (Trouens, ‘n houtlepel werk ewe maklik). Voer die boom en kante van die gesmeerde tertbord uit met deegkors... (Klein Quiche-pannetjies is ook ideaal).

Vulsel
3 eiers
250 ml room of melk (1k)
5 ml bakpoeier (1 tl)
30 ml koekmeel (2 eetlepels)
sout & peper na smaak
250 ml gerasperde cheddarkaas (1 k)
125 ml gaar spinasie
60 gm fetakaas
250 gm, spekvleis fyn gemaak, gesny en gebraai.

Metode
Meng al die bestanddele (behale die kaas en gaar spinasie) met draadklitser of menger. Sit nou gekrummelde fetakaas bo-op die deeg. 
Strooi dan die gaar spekvleis bo-oor. Die spekvleis moet nie te hard gebraai word nie. Bedek nou met gaar spinasie. Gooi dan die eiervla oor, strooi gerasperde kaas oor. 
Bak in die voorverhitte oond vir ongeveer 30 tot 45 minute tot die vulsel mooi stewig gestol is. Bedien sommer so warm of teen kamertemperatuur. 
Onthou: Die van julle wat hierdie resep in die volgende week of wat op die proef gestel het, sal min twyfel hê dat Alet se resepte (soos maar almal van die VLU-dames) die moeite werd is om voor te wag. Daarom dat ons julle nou reeds kan waarsku - Alet maak volgende week vir ons ‘n heerlike appeltert - kry sommer nou reeds die pannetjies reg - hierdie is net so lekker - ons praat uit ondervinding!