20
Mon, May

Cold Beverages
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Oktobermaand het maar pas begin en ja, dit is reeds 'n uitgemaakte saak dat ons vanjaar weer 'n warm somer gaan hê. As die temperature in Rustenburg nou al in die 35 °C-omgewing boer, moet ons maar weet, Desember gaan ons sweet... En teen die prys van "kruideniers" deesdae is 'n lafenissie teen die middaghitte gewis nie goedkoop nie. Vir liefhebbers van vars vrugtesap, het ons 'n blink idee. 
Jy onthou nog daardie heerlike suurlemoenstroop wat in die ou dae so gewild was en wat jou ouma omtrent twee dae geneem het om te maak? Wel, 'n baie soortgelyke resep en metode doen nou weer die ronde en om eerlik te wees, is daar feitlik geen verskil nie. Hier maak jy ook 'n stroop, verkoel in die yskas, en verdun dit met 'n bietjie water om 'n heerlike glas yskoue suurlemoensap te maak.

 Hierdie resep kom ook van Rodney MacDonald - seun van Marié en wyle Jimmy MacDonald. Mense wat weet, sal weet dat Rodney 'n slag met kos maak het. Hierdie resep vir 'n lekker suurlemoensap sal jou in die komende somer handig te pas kom en jou nie sakke vol geld kos wanneer die temperature tot by die hoë dertigs of nog erger styg nie. Jy maak hierdie heerlike suurlemoensap soos volg:

Bestanddele:
Ongeveer 12 tot 20 suurlemoene - hang af hoeveel sap jy wil maak en hoe groot die vrugte is

2.2 kg suiker
2 teelepeltjies wynsteensuur
2 teelepels Engelse sout
4 teelepels Sitrosoda
6 koppies gekookte water

Metode:
Druk die sap van jou gekose hoeveelheid suurlemoene uit. Voeg daarby die gerasperde skil van nagenoeg 6 suurlemoene.

Gooi bogenoemde bymekaar in 'n groot souspan en laat deeglik oplos terwyl jy dit deurlopend liggies roer. Bedek en laat oornag staan.
Gooi die volgende dag die "stroop" deur 'n fynerige sif om die stukkies growwe suurlemoenskil en "onsuiwerhede" te verwyder as jy wil. Party mense slaan hierdie stap oor omdat hulle die suurlemoenskil en "veseltjies" in die suurlemoensap verkies. Gooi nou jou stroop in glasbottels en verkoel in die yskas tot en met gebruik. Vir 'n lekker soetsuur suurlemoendrankie vul jy omtrent 'n vyfde van jou glas met die stroop en maak dan vol met koue water. Jy kan dit 'n bietjie roer, hoewel dit eintlik glad nie nodig is nie. Jy sal saamstem dat dit 'n heerlike verfrissende drankie is wat 'n mens vining laat afkoel en waarskynlik goeie medisyne teen volgende jaar se winterverkoues en griep is.
Vir mense wat die suurlemoendrankie so 'n klein bietjie aan die soet kant vind, gooi jy eenvoudig 'n bietjie minder suiker by die mengsel.