21
Sat, Dec

Fish
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Mari Nagel is lief vir tuinmaak, bak en brou en voorsien ‘n paar koffiewinkels in Klerksdorp van heerlike tuisgebak. Dié tuna roulade is indrukwekkend op die koffietafel en baie maklik om self te maak - boonop met bestanddele wat jy gewoonlik in die koskas het.


deur Mari Nagel

Vulsel:
• 1 blikkie tuna
• 1 middelslag ui, fyngekap
• 60 g grof, gerasperde cheddar kaas
• 30 g grof, gerasperde yskoue botter of margarien

• 100 ml mayonnaise
• 15 ml blatjang
• 15 ml aangemaakte mosterd

Rol:
• 4 eiers
• 50 ml suiker
• 2 ml sout
• 60 g koekmeel
• 1 ml peper

Bedekking:
• 125 g maaskaas
• 100 g cheddar smeerkaas
• 50 g grof gekapte pekanneute
• Fyn gekapte pietersielie

Metode:
• Voorverhit die oond tot 200°C.
• Smeer 'n rolkoekpan en voer uit met waspapier. Dreineer en vlok die tuna.
• Meng met uie, kaas, botter, mayonnaise, blatjang en mosterd. Hou eenkant tot nodig.
• Skei die eiers. Klits die eierwitte tot skuim.
• Voeg suiker en sout by en klits tot styf.
• Klits die eiergele en vou by die eierwitmengsel in.
• Sif die koekmeelblom en peper bo-oor en vou dit ook in.
• Versprei die mengsel in die rolkoekpan.
• Bak die basislaag vir ongeveer 8 minute tot gaar en effens bruin.
• Keer dit op 'n klam doek uit en verwyder die waspapier.
• Smeer die vulsel oor die warm basis. Rol dit soos 'n rolkoek op en sny die punte netjies.
• Meng die maas- en smeerkaas en neute. Smeer dit oor die rol. Strooi pietersiele bo-oor.
• Verkoel die rol tot nodig.
• Lewer 8-10 porsies.