20
Mon, May

Stew
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Hier in die Rustenburg-wêreld is die meeste van ons seker maar opregte karnivore as dit by ons gunstelingkos kom. Maar moenie ‘n fout maak nie, daar is ook baie van ons mense wat daarvan hou om elke af en toe ‘n lekker seekosgereg te maak. Ek onthou toe ek die eerste keer hier in die “ou Transvaal” ‘n regte seekospotjie geëet het – my oë het amper omgedop.
Gelukkig was dit nie die laaste keer nie. Tydens HTS Rustenburg se onlangse potjiekosdag het niemand anders nie as me Yvonne Bester – die skoolhoof, ‘n asemrowende seekospotjie aangeslaan en soos ek sê – behoorlik die asems weggeslaan. Ek wens heimlik ek kon so ‘n potjie maak…

Die hele see in Yvonne se pot

Knoffelslakke:

1 Blikkie slakke, afgespoel onder lopende water.
Smelt 300g botter, asynsout, ‘n korrel swartpeper & die sap van ‘n halwe suurlemoen in ‘n klein potjie. Voeg die slakke by die gesmelte bottermengsel en kook dit vir min of meer 2 minute.
Bedien met brood. (Hierdie gereg kan ook in ‘n mikrogolfoond berei word)

Romerige Seekospot

Bestanddele:

250 g botter
een eetlepel gekapte knoffel
2 gekerfde uie
1 gekerfde rooi of geel soetrissie
250 g knoppiesampioene
500 g calamari “strips” of ringe
500 g kingklip, ontbeen en sonder vel
500 g skoon garnale (prawns)
500 g halweskulp mossels gevul met knoffelbotter
250 ml vars room
1 pakkie “Chicken a la King “ souspoeier

Metode:

Braai die uie, knoffel, soetrissie & sampioene tot amper sag, voeg die calamari by en braai ongeveer 2 minute, voeg die garnale (prawns) by en roerbraai ‘n verdere 2 minute.
Sit die kingklipstukke bo-op die roerbraaimengsel, sit die deksel op en prut vir 5 minute. Sit die halwe mossels bo-op die vis, sit weer die deksel op en laat die mengsel verder prut terwyl jy die room en souspoeier tot ‘n gladde pasta meng. Gooi hierdie roommengsel nou oor jou seekospotjie en laat prut totdat die sous verdik. Bedien op geelrys en ‘n groen mengslaai.
Genoeg vir 6 – 8 persone. Hierdie gereg kan met ewe groot sukses op die kole, gas of elektriese stoof voorberei word.