20
Mon, May

Jams & Dips
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Daar is geen plaasvervanger vir ondervinding nie - dit sal enigiemand jou sê! Daar is seker maar min terreine waar hierdie waarheid só van toepassing is as in die kookkuns, bakkuns as jy dan wil of wanneer jy moet leer om konfyt te maak of vrugte in te lê. Daarom dat Estara Gastehuis neffens Kroondal vir ouma Dina Haywood nadergetrek het toe dit onlangs tyd was om bottels en bottels se koejawels in te lê.
Mirandie Haywood van Estara Gastehuis is die derde-generasie nageslag wat vanjaar die voorreg gehad het om eerstehands by Ouma Dina in die geheime van vrugte inlê onderrig te word. Vir Ester - (Mirandie se moeder) is die leersessie in talle opsigte kosbaar en as’t ware “soete vrugte” omdat “ons so nie net bottels vol “kultuur” vir ‘n goeie dag bêre nie, maar omdat ons die tradisieryke kosbuisgeheime van ons moeders en oumas aan ons kinders kan oordra. Dit laat haar onwillekeurig dink aan haar eie ma (wyle Anna Swanepoel) by wie sy feitlik maar alles geleer het wat sy vandag weet. Maar ja, genoeg van heimweë en verlange, nou is dit tyd vir vrugte inlê - Ouma Dina maak dit so: (Onthou - alle ingelegte vrugtes word maar op dieselfde manier gemaak - so hou die wyshede byderhand vir wanneer jou boompie eendag vrugte dra...)Drie tot vyf kg koejawels/perskes/kwepers, of watter vrugte jy ook al gebruik. (Hierdie is slegs ‘n riglyn, jy kan meer of minder vrugte ook gebruik). Spoel die vrugte in skoon water af. Skil alles af, maak seker daar is nie swart merkies of bytplekke nie en laat dit in ‘n skoon bak water met ‘n klein bietjie sout lê sodat dit nie swart word nie. (Maak seker dit is ‘n ligte oplossing soutwater!)
Gebruik vrugte wat ewe ryp is. As sommige vrugte heeltemal ryp is en ander groenerig, sal die eindproduk nie reg wees nie. Sommige stukkies gaan te sag wees en ander weer te hard of te ferm. Sny die vrugte in skyfies of halwes - nes jy verkies. Maak seker die stukkies is omtrent ewe dik gesny, of as dit halwes is - amper ewe groot dele.

Metode vir stroop
NB: Ek begin gewoonlik my stroop kook in een groterige kastrol (5 liter pot) en gebruik dit dan om die helfte. Ek maak intussen nog stroop aan as dit te min is. Ek maak eerder ‘n bietjie op ‘n slag, as om ‘n klomp te laat oorbly. Jy maak dit so:

7 koppies kookwater; 
7 koppies suiker;

Kook die water en suiker saam vir ongeveer 10 tot 15 minute. Spoel intussen die vrugtestukkies/skyfies onder skoon water af (gebruik ‘n vergietes/strainer). Skep sowat 4 koppies van die vrugtetukkies in die kokende stroop in, nie te veel op een slag nie - dit kan maklik pap kook. NB: Moet ook nie ‘n deksel opsit nie, dit sal oorkook. Laat dit opkook, en daarna nog ongeveer 5 minute vinnig kook. Toets dit met ‘ n stokkie (ek gebruik ‘n skoon tandestokkie, dit werk baie goed).
As vruggie effe sag is, (nie pap nie) moet jy dit in jou voorbereide gesteriliseerde bottels inskep.
Skep eers die stukkies/skyfies in die bottel, en gooi dan vol kokende stroop. Skroef die deksel dadelik op, draai dit styf toe en draai die bottel op sy “kop” tot dit afgekoel is. NB: Werk vinnig sodat stroop of vrugte nie koud word nie.
Jy sal vinnig agterkom as jy nog stroop gaan benodig. Gebruik ALTYD een koppie suiker en een koppie kookwater vir die ekstra stroop. Steriliseer die bottels: Was met seep en water, spoel skoon uit, plaas in die oond vir 5 tot 10 minute op enigiets van 80 - 120°C tot mooi droog, en warm en sit oop neer om volgeskep te word. Baie dankie Ouma Dina, dankie Ester en en voorspoed Mirandie!