20
Mon, May

Jams & Dips
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

AGRI-PULSE – BRITS - In haar spens kreun die rakke onder ‘n groot versameling konfyte en ‘n verskeidenheid ander ingelegde delikatesse. Elsie van Staden, ‘n jarelange inwoner van Brits is waarlik ‘n goeroe as dit by alles wat gebottel en gebêre is, kom. Van haar appelliefie-, uie-, marmalade-, makataan- en rissiekonfyt tot by spekboom-blatjang (om net ‘n paar te noem), is sy die konfyt-koningin van Brits.
Die allerheerlikste geure borrel by haar haar kombuis uit terwyl sy die bloedrooi rissies deur haar “outydse” meuletjie maal ter voorbereiding van haar unieke rissie met sjokolade en whisky-konfyt.
AgriPulse het het by Elsie-hulle gaan inloer om eerstehands te ervaar hoe die interessante konfyt gemaak word. “Konfytkook was nog altyd vir my ‘n stokperdjie, maar die afgelope 15 jaar het dit hand uitgeruk en ek en my man, Johan, is nou met ons aftrede besiger as ooit,” sê sy. “Ek maak al die tradisionele konfyte, maar dit gee my ongekende vreugde om met kombinasies en bestanddele te eksperimenteer. Die gedagte aan whisky en rissies het my verbeelding geprikkel en saam met ‘n paar ander bestanddele soos die sjokolade, gemaalde groenappel en groenrissies (green pepper) was dié resep vervolmaak.

“Ek en Johan het twee keer per jaar ‘n stalletjie by ‘n groot mark in die omgewing en ons kan nie voorbly met dié unieke rissie met sjokolade en whisky-konfyt nie.” Die konfyt werk uitstekend saam met braaivleis of ‘n kaasbord.

Bestanddele
• 1kg rooirissies - • 4 groen appels - • 6 groenrissies
• *suiker (sien by metode) - • 1 koppie whisky - • 1 blok donker sjokolade
• 2 bottels konfyt (vye of makataan)

Metode
Maal rissies, groen appels en groenrissies, gooi bymekaar en weeg dit.
*Gebruik dieselfde hoeveelheid suiker as die gewig van die gemaalde bestanddele.
Gooi alles in ‘n kastrol en kook stadig totdat suiker opgelos is.
Gooi whiskey by en roer, breek die blok sjokolade by en roer. Gooi die twee bottels konfyt by en kook totdat die mengsel begin borrel.
Doen die koue-piering toets: plaas ‘n piering in die vrieskas totdat dit koud is.  Haal die konfyt van die stoofplaat af. Skep 5ml tot 10ml in die piering. Op hierdie manier sal jy gou sien of dit die regte tekstuur en nie meer loperig is nie.
Bottel dan in gesteriliseerde bottels en plaas bottels onderstebo sodat dit goed kan seël.

Belangstellendes wat graag dié uniek rissie, sjokolade en whiskey-konfyt of enige ander delikatesse van Elsie van Staden wil bestel, kan haar by 082 417 0982 skakel.