20
Mon, May

Jams & Dips
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

As die middagsonnetjie begin “flou” word en die skaduwees lê sommer vroegdag al halfmas, weet ons die winter is op pad en die sitrusseisoen is op hande. Ons hoef hier sekerlik nie uit te brei oor al die wonderlik konfyte wat ‘n mens van lemoene, suurlemoene, naartjies en kumkwart kan maak nie. Dit is egter belangrik om die regte variëteit te kies anders kan jou stroop te taai of jou skil te dik raak, om dit nou so te stel… Ons hier by “Raak die ‘klits’ kwyt” was gelukkig om ‘n sakkie vol vars Nova-naartjies (en baie raad) by die bekende Elma Kok te kry en het besluit om ingelegte naartjies in stroop te probeer. Soos ons vroeër al genoem het, het konfyt-, marmelade-, jellieen stroopkokers elkeen maar sy eie metodes en geheime. Toegerus met ‘n goeie dosis “agtergrond” deur Elma, het ons die volgende gedoen.

 

Ingelegte naartjiekwarte
Was jou naartjies in water. Rasper fynerig aan die bo- en onderkant en so plek-plek in die rondte. Laat lê oornag in koue water - dit help om die bitterheid uit die skil te trek. Gooi die volgende oggend (ja, dit moet taamlik vroeg wees anders gaan jy eers laatmiddag klaarkry) die water af en sny die naartjies in halwes/kwarte. Ons het probeer om soveel as moontlik pitte te verwyder. Gooi in groot pot vars water en kook vir ongeveer 40 minute of tot naartjiekwarte effens sag is. Verwyder die pitte wat uitgekook het en ander wat jy steeds in die vrugte opmerk. Gooi dan weer water af en begin om jou stroop met nuwe water te kook – soos altyd maar gelyke hoeveelhede vrugte en suiker. Gooi jou suiker in ‘n groot pot, vul met water sodat al die naartjiekwarte bedek sal wees (nagenoeg 3 l) en bring stadig tot kook. Wanneer water kook, voeg vir die laaste keer jou naartjiekwarte by en kook so vir die eerste 30 minute met ‘n half-oop deksel. Onthou om so amper halfpad met die kookproses die sap van twee suurlemoene en twee tot drie stukkies gekneusde gemmerwortel by te voeg.
Haal daarna die deksel af en kook vir nog ‘n uur tot 90 minute. Ons s’n het selfs nog langer geneem omdat ons omtrent agt botteltjies se naartjiekwarte gesny het. Kook totdat jou stroop aansienlik verminder het, effentjies “dikkerig” is en stol wanneer jy ‘n klein bietjie daarvan in die yskas geplaas het. Verwyder van hitte, laat effens afkoel en bottel terwyl warm. Laat staan vir minstens drie tot vier dae voor gebruik…