20
Mon, May

Salads
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Wie van ons hou nie daarvan om die karavaan of die 4x4 (en) die tent te pak en die bos in te vaar nie? Vir loshande seker die meeste Suid-Afrikaners bly die “bos” maar ‘n idilliese plek waarvan ons droom maande voor daar gepak moet word of waaroor ons heimwee het selfs jare nadat jy jou gunstelingplek se stof van jou stapstewels geskop het… En dan is dit maar weer terug kantoor toe… 
Vir sommiges egter, hou die droom ‘n bietjie langer. Twee Rustenburgers wat hulle onder hierdie gelukkiges bevind, is die baie bekende Kiep en Paula le Grangé van Bundu (Safaris) & Outdoor. Kiep is vir jare reeds bekend as toerleier van opwindende safaris na eksotiese Afrikabestemmings soos Botswana en Namibië en gaste wat al saam met die Le Grangés om ‘n laatnagvuur gesit het, getuig sommer maklik dat hulle hul wortels onder ‘n groot ou Kremetartboom êrens in suidelike Afrika gevind het... Maar terug na die kookpotte, ja, uiteraard is Kiep en Paula ook bekend vir die heerlike boskos-etes waarop hulle toeriste in die veld trakteer. Maar nee, ons gaan nie vandag vir Rustenburgers vertel hoe om ‘n hoofgereg soos ‘n vleissnit of dergliks in die veld voor te berei nie – dit doen ons volgende week.

Nee, vra maar die dames - die kuns lê in die bykosse en die La Grangés deel hier ‘n paar eenvoudige, maklike resepte wat “ma” ewe maklik in die veld kan maak.

Paula se Warm Aspersiegereg:
Bestanddele 
2 blikkies groen aspersies;
2 blikkies Franse snit groenbone – dreineer albei hierbo deeglik;
1x 250ml langlewe-room;
Aromat – LW – geen sout!

Metode
Nadat bone gedreineer is, hou die pot skuins en absorbeer ALLE vloeistof met handdoekpapier. Voeg aspersies en room by. Geur met Aromat en indien jy wil, ‘n draaitjie growwe swartpeper. Verhit tot goed warm en geniet. Hierdie is heerlik met braaivleis en kan ook as ‘n sousie oor ‘n sagte fillet gebruik word…

Beet- en peerslaai:
Bestanddele
2 boksies Werda gerasperde beet;
1 blikkie 410g pere;
Goeie, romerige Mayonnaise;

Metode
Dreineer beet baie goed;
Gebruik handdoekrolpapier – hou pot skuins en absorbeer alle vloeistof;
Sny pere in. Meng ‘n goeie skeut Mayonnaise in en bedien.

Soos ‘n mens maar doen, het ons hier beslis die lekkerste vir laaste gelos. Paula se “Alles-wat-oorbly-poeding” laat regtig die mond water - wag maar tot ons weer in die veld is!

“Bestanddele”
Romany Creams;
Boudior beskuitjies;
Nutty Crust;
Gemmerkoekies ens;
Ultramel vla;
Langlewe-room;
Kersies (“cherries”)
Marshmallows; (Malvalek… toe maar, los dit maar….)
Sjokoladeblokkies – gewone “tjoklits” werk ook goed…
Perskes, pere en koejawel in blikkies is opsioneel;

Metode
Gooi alles in ‘n pan en bedek met foelie. (‘n Swartpot met deksel werk beter, andersins is die pan goed). Plaas op rooster. Skep ‘n paar kooltjies op die foelie/deksel. Laat “prut” vir 10 tot 15 minute en bedien warm – die lekkerste lekker in die veld!

Aanstaande week wys Kiep vir ons hoe om sy berugte fillet in die veld gaar te maak en dit met lekker aartappeltjies en ‘n sousie af te rond – moet dit nie misloop nie!

Onthou mense – jy hoef nie ‘n fundi te wees om vir ons te wys wat jy in die kombuis (of by die braairooster) kan doen nie. Neem die vrymoedigheid en skakel Waldie Volschenk gerus by 014 592-8329.