20
Mon, May

Vegetables
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Een van die lekkerste dinge van 'n Desember-vakansie is gewoonlik maar die weersiens van geliefde familie of vriende wat 'n mens lanklaas gesien het. Dit is seker onnodig om te noem dat die weersienste meestal gepaard gaan met laataandkuiers om die braaivure of uitstappies na plekke wat vir 'n mens ewe spesiaal geword het. Ons hier by die redaksie het die afgelope vakansie vir 'n paar kort daggies geleentheid gehad om ou vriende Anton en Talitha Opperman (en grootseun Aldrich natuurlik) weer te sien en ja, soos ons altyd met mekaar skerts wanneer daar kos gemaak word - "ons het die pap behoorlik dik aangemaak" en is 'n paar dae later soos die spreekwoordelike "dik vriende" uitmekaar...
Benewens die gewone etes soos braaivleis en aartappelslaai het Talitha ons met 'n heerlike verrassing bederf - al gehoor van "gepekelde" (eintlik gesoute) aartappels? Wel, ons ook nie, maar dit is nogal 'n heerlike afwisseling van die dinge wat 'n ou gewoonlik om die braaivuur geniet. Terwyl ons rondom die tafel aan't smul was, is die gereg eenparig as 'n "Voorgereg/hoofgereg - alles in een" beskryf. Dié aartappelgereg is eintlik 'n skepping van Talitha se swaer wat ongelukkig met ons gekuier afwesig was, anders kon "Howard" seker self met sy aartappels spog... Maar dit daar gelaat - 'n mens maak dit so...

Bestanddele

1 gemiddelde grootte aartappel per persoon. Was aartappel goed en steek minstens ses keer met 'n vurk lekker diep gate in die aartappel. Vryf nou die aartappel(s) met sout tot dit taamlik goed bedek is. Dit kan maar lyk of die aartappel wit "gesneeu" is. Plaas op 'n bord en mikrogolf vir 3 - 4 min op hoog per aartappel. Draai die aartappels halfpad om en toets aan einde van tyd met 'n skerp messie om te kyk of dit deeglik gaar is.

Slakke sous vir 4 mense (kan verdubbel word)
1 blik slakke (goed afgespoel)
250 ml room
250 ml water
1 pakkie Knorr wit uie-soppoeier
Knoffel (2 - 3 teelepels)

Metode

Braai genoeg fyn knoffel in bietjie olyfolie in kleinerige kastrol. Plaas room, water en soppoeier by gebraaide knoffel en laat prut op lae hitte tot dit dik word. Wanneer sous gaar is, voeg jy die slakke by en roer goed deur. 

Neem nou die aartappel en sny kruisie bo-op en druk met vingers van onder af oop en gooi dan die slakke en sous bo-oor.
Die res van die maaltyd het bestaan uit 'n stukkie gebraaide wors en sosatie vir elke persoon asook 'n skeppie varsgemaakte slaai.

Kry soveel as jy wil - dis vakansie...