Tydens die pas afgelope Desember-skoolvakansie en feesseisoen was dit in eg Suid-Afrikaanse kultuur onvermydelik dat talle families en gesinne saam met mekaar rondom die tafels of braaivure gesit en die beste tyd van die jaar saam geniet het. Omdat daar in hierdie tyd behoorlik uitgehang word met die eet- en drinkgoed en daar meestal geen tekort aan oordadigheid is nie, is daar tog ook dae waarin doodgewone Suid-Afrikaanse boerekos of tradisionele geregte bedien is. In baie Suid-Afrikaanse huise bly stampmielies maar ‘n gunsteling en ‘n regte randrekker as die einde van die maand begin nader kom – hou dit dus sommer byderhand as die baie lang Januarie van elke jaar ‘n bietjie té lank begin word.
Maar moenie die fout maak om te dink dat stampmielies verbeeldingloos opgedis moet word nie. In die kombuis van Annefrie Breitenbach - administrasieklerk by die Rustenburgtak van die Oorinstituut - en haar dogtertjie (Emily) is stampmielies hoog op die lys van gunstelinggeregte en dit word met groot variasie voorberei.
Hierdie is maar een van die weergawes wat waarskynlik in baie huise voorgesit word.
Bestanddele:
500g Stampmielies
2 groot uie fyn gesny
1 Groen soetrisse opgekap/fyn gesny
1 Pakkie sampioene in skyfies gesny
1 Pakkie (200g) spek in klein blokkies gesny
1 Koppie Cheddar-kaas
1 Koppie Mayonnaise
1 Koppie room
1 Pakkie uiesoppoeier
1 Eetlepel knoffel – fyngedruk
Baie mense laat die stampmielies oornag in water lê om dit vooraf lekker sag te maak. Andersins kook jy dit in ‘n stoompot tot lekker sag. Sny uie, soetrissie en sampioene op en braai in ‘n pan met ‘n klein bietjie olie. Braai ook die spek met knoffel - tot gaar.
In ‘n mengbak meng die Mayonnaise, room en soppoeier saam. Voeg dan die gebraaide uiemengsel en spek by, asook die sagggekookte stampmielies.
Roer deeglik tot alles goed gemeng is.
Gooi die mengsel uit in ‘n vuurvaste oondbak en bak in die oond vir 60 minute op 180°C. Haal na ‘n uur uit, strooi ‘n ruimhartige porsie kaas bo-oor en plaas terug in die oond totdat die kaas goed gesmelt is.
Haal uit – laat effens afkoel en bedien.