21
Sat, Dec

Ethnic
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Kyk – in ons familie is daar ‘n klompie mense wat behoorlik kán kosmaak en dit is sagkens gestel. Só, met rugby-, tennis- of ander belangrike sportnaweke is dit maar ‘n algemene ding dat die familie eers lekker saam voor die tv saamtrek voordat die vreugdevure aangesteek word en die partytjie in ‘n egte rugbybraai ontaard.  Maar daar ontaard die afgelope naweek se langverwagte tweestryd teen die “Swart Gevaartes” toe in só ‘n senutergende affêre dat die blus lank voor skemer heeltemal uit die rugbypraters se braaivuurtjies is. Boonop het Moeder Natuur vroegoggend al haar koudste jas afgestof en haar ongenooid hier in Rustenburg kom tuismaak. Was dit nie vir die voorgevoel van die vroue wat inderhaas die allerlekkerste (en baie welkome) potjie lamskerrie aangeslaan het nie, was die manne waarskynlik die hele naweek lank droëbek om dit nou só te noem. 
So onverwags soos dié potjie lamskerrie was, het ons vinnig besef dat hierdie kerriepot nie ongesiens of ongelees kan verbygaan nie en hier sit ons nou met sekerlik die heerlikste winterpotjie van die afgelope yskoue en skynbaar nimmereindigende winter van 2024.

Lamskerrie Potjie 

Bestanddele:

1 kg lam- (of hoenderporsies)
½ koppie kookolie
2 Medium uie (gekap)
1 tlp “heel” biryani-mengsel
2 of 3 medium aartappels in kwarte gesny
2 medium tamaties fyngekap
1 eetlp gemmer- en knoffelpasta
2 eetlp Samoosa & speserye Masala
1 eetlp borrie
1 of 2 tlp kerriepoeier/pasta en rooikerriepasta (opsioneel) 
‘n halwe handjievol lourierblare
Nog opsionele kruie en spyserye waarvan jy ‘n titseltjie van elk kan byvoeg indien die beursie of die tyd dit toelaat, is roosmaryn, basiliekruid en origanum 

Metode:

Verhit olie in pan, Voeg uie, biryanimengsel en halwe handjievol lourierblare by en braai tot goudbruin. Voeg borrie en tamaties by en kook tot taamlik droog. Voeg nou die stukkies lamsveis (dit is ‘n goeie idee om dit vir ‘n rukkie vooraf te stoom), gemmer en knoffelpasta, Masala en sout na smaak by. Meng goed, maak toe en laat saggies prut vir ongeveer 25 minute op mediumhitte. Voeg aartappels en twee koppies kookwater by en kook saggies tot aartappels sag is. Maak intussen ‘n kleiner bakkie/potjie salsa met uie, gekapte tamaties en groenrissie. 
Wanneer lamskerrie gaar en sag is - bedien op rys met ‘n salsamengsel – garneer met koljander en kerrieblare. ‘n Bottel van Mev Balls se lekker blatjang is altyd heerlik – hou dit gerus byderhand.