21
Sat, Dec

Ethnic
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Of dit nou tacos, enchiladas, nachos, tortillas of sommer net “Big Korn Bites” is – mense regoor die wêreld is mal oor Meksikaanse kos, geregte of happies – onthou julle nog die kostelike “Big Korn Bites”-advertensie op TV hier vroeg in die negentigers? Nouja, in hierdie week se kook maak ons ‘n tortilla-happie (Mexican Tortilla Breakfast Boats) wat selfs nog meer gewild as die droëbeskuitjie “Big Korn Bites” is. Mariska Kruger – ‘n stylvolle Rustenburgse dame wat al ‘n string skoonheidstitels agter haar naam het, was baie onlangs in Mexiko waar sy haar jongste skoonheidsprestasie behaal het en deel vandeesweek met ons ‘n ontbytreseppie wat in Sentraal- en Latyns-Amerika omtrent daagliks voorgesit word. Die groot lekker van hierdie resep is dat ‘n mens dit in verskillende variasies kan voorsit en dat dit in elke formaat of smaak ewe lekker is. Nouja, genoeg gepraat – kom ons laat die tortillas die praatwerk doen. 

Bestanddele:
 
‘n Handjievol agurkies
Een of meer pakkies met 8 “Old El Paso Soft Tortillas” wat soos “bootjies” lyk;
Na gelang van die hoeveelheid gaste aan jou tafel – vul kleinerige bakkies met matige (en/of sterk) salsa-sous, ‘n paar goeie skeppies guacamole, suurroom, gerasperde kaas en roereier. Indien die geleentheid nie ‘n ontbyt is nie, kan jy die eier met enige ander lekker happie vervang wat jy meen beter by die geleentheid sou inpas. 

Metode:

Maak die roereiers in olyfolie soos jy daarvan hou en voeg sout en peper na smaak by. Braai ‘n paar stukkies varkspekblokkies ook in olyfolie tot lekker krakerig en gaar. Verwyder die tortillas uit die verpakking, plaas in ‘n mikrogolfoond en verhit vir nagenoeg 30 sekondes op volkrag tot warm. 
Vul nou die warm tortilla-bakkies met die vulsels van jou keuse en skep vir elke gas een of verkieslik twee van die tortilla-bootjies in. Indien gaste gemaklik en ou vriende is, kan elke gas sy eie tortilla-bootjie maak. 
Rond bo-op af met suurroom, guacamole klein takkies pietersielie en garneer met ‘n paar stukkies gekerfde of heel agurkies. 
Onthou dat ‘n bietjie Tobasco en ander branderige sousies wondere vir die gereg kan doen, mits jy natuurlik iemand met die spreekwoordelike “blikmond” is. Bedien met ‘n glas vars lemoensap, koffie of tee of as dit so koud is soos die huidige winter, sommer ‘n ietsie sterker as jou kantoordag darem nie te lank is nie. 
Nouja, daarmee is dit “adios amigos”!