Vir menige van ons is die gedagte om sewe dae ‘n week te werk, net een te veel – maar as jou werk jou passie is, is dit nie noodwendig die geval nie.
Lanie Janse van Rensburg is so tuis in die kombuis soos ‘n Eskimo in ‘n igloe en sedert 2019 is sy ‘n staatmaker vir menige families in Rustenburg wat bloot nie die tyd (of talent) het om elke dag ‘n gekookte maaltyd voor te sit nie.
Sy lewer daagliks een gekookte ete aan ‘n lys van gewaardeerde kliënte, maar sorg ook vir dié van ons met ‘n soettand met haar alombekende koeksisters en melkkos.
Vir families wat die tradisie van ‘n gekookte Kersete volg, het Lanie haar weergawe van ‘n sappige varkpensie (“pork belly”) voorberei en haar mosaïekjellie is ‘n kleurvolle, verfrissende nagereg - perfek vir warm somersdae.
*Skakel Lanie gerus op 064 655 4269 vir snoepborde/”platters”, gekookte etes, grootmaat slaaie, koeke, terte en lekker koeksisters.
Mosaïekjellie
Bestanddele:
4 pakkies jelliepoeier in verskillende geure/kleure
1 blik (385g) kondensmelk
2 pakkies (20g elk) Moir’s of Crown ongegeurde gelatien
2 koppies kookwater
2 koppies koue water
Metode:
• Maak elke pakkie jellie apart aan – meng elke pakkie met 1 koppie kookwater en roer tot opgelos. Voeg dan ½ koppie koue water by en meng goed. Gooi elke geur in ‘n aparte vlak houer en verkoel in die yskas tot dit stewig gestol is (ongeveer 3-4 ure)
• Sny die jellie wanneer dit gestol is – elke geur in klein blokkies en plaas dit dan saam in ‘n groot mengbak
• Die wit mengsel – week die twee pakkies gelatien in ½ koppie water vir 5 minute. Voeg dan 1 ½ koppie kookwater by en roer tot opgelos. Meng die kondensmelk by die gelatienmengsel. Laat dit afkoel tot kamertemperatuur (moenie dit laat stol nie).
• Giet die gekleurde jellieblokkies in ‘n ringvormige (of gewone) bakvorm (gesmeer of gesprei met ‘n nie-kleefbare sprei). Giet die wit kondensmelk-gelatienmengsel oor die blokkies jellie totdat dit alles bedek is. Verkoel oornag of vir sowat 6 ure totdat dit stewig gestol is.
• Ontvorm en bedien – plaas die vorm vir 10 sekondes in warm-/kookwater, draai om op ‘n opdienbord en lig sagkens af. Bedien koud.
Wenke – Gebruik ‘n mengsel van jelliegeure vir mooi kontrasterende kleure. Gebruik klappermelk ipv kondensmelk vir ‘n ligter, tropiese geur.
Die nagereg kan 3/4 dae in die yskas gestoor word.
Heerlike “pork belly”/varkpensie
Bestanddele:
1 pork belly, ontvries
1 koppie sojasous
1 koppie Worcestershire-sous
2 eetlepels fyn knoffel
2-3 eetleppels appelkooskonfyt
Suurlemoenpeper (na smaak)
Enige hoender of BBQ speserye (na smaak)
Sout (na smaak)
Vir metode 2:
2 koppies water
Metode 1:
• Voorverhit oond tot op 180°C
• Spoel pork belly af met water
• Neem oondvaste bak of pan met deksel en lê pork belly daarin
• Neem jou bestanddele een vir een en vryf die pork belly aan albei kante, behou alle souse in bak
• Maak toe met deksel en bak vir 2-3 ure in oond of tot gaar.
Metode 2:
• Spoel pork belly af met water en lê in oondvaste bak of pan
• Meng al die bestanddele (behalwe appelkooskonfyt) saam en voeg by pork belly, bedek met deksel en bak vir 2 tot 3 ure of tot gaar in oond. (Pork belly kan met vleis vurk omgedraai word halfpad deur bakproses)
• Wanneer die vleis gaar is, neem die appelkooskonfyt en smeer/bedek die vleis eweredig. Bak dan vir +- 10min op hoë hitte tot effens bros
• Haal uit oond, laat afkoel, sny in skywe en bedien saam met bykosse

