20
Mon, May

Pasta
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Nou ja, vir die Italianers hoef jy niks van pasta of ‘n “pastatjie” te vertel nie – nooit nie! Maar natuurlik van oordadigheid ook nie..? 
Hier in Rustenburg waar ons nou gevaarlik naby aan die einde van Januarie trek, moet almal seker (hopelik ander ook?) na regte randrekker-geregte op soek wees waarmee die gesin aan die gang gehou kan word totdat die spreekwoordelike maandeinde-spook darem weer loop. (Kollega Christelle sê die maand is so lank – verlede jaar hierdie tyd was dit al Maart!)
Maar terug na die pastatjie – die Italianers het ‘n pastatjie wat hulle “Pastitsio” noem. Om dit behoorlik te doen is ‘n taamlike mondvol – maar hier einde Januarie maak ons Heleen Verster se vinnige weergawe van Pastitsio – lekker vinnig, nie duur nie en uiters “effektief”! Boonop so maklik soos val uit ‘n boom uit…

Bestanddele vir “Pastitsio”:

1 pakkie “Three Cheese Mince Mate”
1 pakkie aanmaak-kaassous
gerasperde kaas
250 ml ongegeurde joghurt

Bestanddele vir slaai:

1 kop blomkool
1 kop broccoli
Groot bottel (wat deeglik seel)
Vinagrette Griekse slaaisous
Metode:

Verhit die oond tot 180°C.
Neem ‘n pakkie “Three Cheese Mince Mate” en volg die voorbereiding-aanwysings. Neem een pakkie aanmaak-kaassous en maak sousie volgens aanwysings.
Meng nou die kaassous met 250 ml ongegeurde joghurt. Skep die “mince mate” in ‘n oondvaste bak. Gooi die gemengde kaassous en joghurt bo-oor. Strooi gerasperde kaas en bak in die oond tot die kaas gesmelt is.
Die “Pastitsio” bedien jy met ‘n slaai van jou keuse. Heleen se keuse is blomkool en broccoli.

Jy maak dit so:

Neem stukkies blomkool en broccoli en was goed. Plaas kool en broccoli in bottel wat deeglik seel. Gooi ‘n botteltjie Vinagrette Griekse slaaisous oor en laat staan vir 24 uur. Maak seker die sousie bedek die kool en broccoli en draai bottel gereeld om sodat dit deeglik deurtrek.
Hierdie slaai is ook al te heerlik met braaivleis of op ‘n kaasbord.