21
Sat, Dec

Pasta
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

As jy die ouer van ‘n klompie altyd honger kinders is, sal die pastageregte in jou gunsteling-resepteboek baie prominent met verskillende variasies pastamaaltye gemerk wees. Pasta is bekend as die ideale maaltyd omdat dit nie net die perfekte randrekker is nie, maar veral omdat dit eenvoudig is om voor te berei, baie gesond en verbasend vullend is. Met die onlangse Julie-skoolvakansie het Nalize Buys die verbeelding ingespan en hoewel dalk ‘n rapsie kontraproduktief met betrekking tot bekostigbaarheid, is hierdie garnaalpastagereg van haar ‘n treffer onder die familie.  Dit is egter so heerlik dat jy nie lank hoef te soek na ‘n klompie gewillige hande om die spreekwoordelike handjie by te sit nie. Nalize en die jongklomp aan haar tafel het dit so gemaak: 


Bestanddele:
500 g garnale
50 g botter
200 g kersietamaties
250 g “snacking peppers” (amper dieselfde as peppadews)
230 g parmesaankaas
1 groot bruin ui
2 suurlemoene
250 ml vars room
4 knoffelhuisies
1 kg goeie gehalte spaghetti-pasta
3 teelepels Spaanse paprika
Sout en peper na smaak
1 koppie vars pietersielie

Metode:

Garnale – verwyder die doppe en “dermpie” of as jy verkies – koop vooraf-verwerkte garnale. As jy bevrore garnale gebruik, maak seker dat dit perfek ontdooi/ontvries is anders sit jy met ‘n ongewenste hoeveelheid vog/water in jou pan. 

Gaan dan só te werk: 
Voorbereiding van pasta – maak genoeg water vir 1 kg pasta aan die kook en voeg spaghetti by. Volg die aanwysings op die pakkie(s) pasta noukeurig vir metode en kooktyd wat benodig word. Wanneer pasta die ideale tekstuur bereik het, dreineer die water – behou egter sowat 3 koppies van die pastawater vir latere gebruik. 
Terwyl die pasta aan’t kook is, maak die garnale skoon. Verhit ‘n groot pan of kastrol op medium-hitte, voeg die botter by en kook die garnale met ‘n titseltjie sout en peper en paprika. Skep die garnale uit die pan wanneer dit ‘n ligte pienkerige kleur kry en plaas eenkant. 
In dieselfde pan, voeg ‘n bietjie meer botter by indien nodig en sauté (panbraai) die gekapte knoffel, rissies, uie en tamaties op lae tot medium hitte vir ‘n paar minute. Voeg die room asook drie koppies pastawater by en roer goed in. 
Gooi nou die gaar garnale terug in die pan, gooi suurlemoensap van 1 of 2 suurlemoene en gerasperde skil van 1 suurlemoen by. 
Skud (“toss”) alles saam en rond af met gerasperde parmesaankaas en gekapte pietersielie. Gooi oor in mooi opdienbak en onthou dat ‘n tikkie rissie (chilli) of rissie-olie heerlik is saam met die pasta. Die gereg neem omtrent 20 minute om voor te berei. 
Onthou, as die kinders ywerig handjie bysit kan dit nog 20 minute langer duur.