20
Mon, May

Pasta
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Hoewel die afgelope somer sekerlik die warmste is as wat die meeste mense kan onthou, is daar hoop dat die winter stadig maar seker aan die kom is en binnekort sal Rustenburgers ‘n bietjie welkome verligting geniet. Ons wil nie ons lyf weerprofeet hou nie, maar ons het ‘n goeie vermoede dat Suid-Afrikaners nie vanjaar oor die winter gaan kla nie. Met die kouer maande op hande, bring ons vandag ‘n warmer resep wat jy dalk maar ‘n bietjie “op ys” kan sit tot die winter in al sy glorie toeslaan. 
In die tweede aflewering van ons kuier by Amelia Swanepoel en haar sibbe, is ons kosmakers hierdie week Amelia en haar dogter Anne-Mari van der Westhuizen en hulle maak vir ons ‘n pastagereg waarvoor jy ver sal moet reis om dit geklop te kry – Napolitaanse Pesto met maalvleisbolletjies en romerige Tagliatelle-pasta. Onthou dat jy die Pesto voor die tyd kan maak en in die yskas kan bêre soos Amelia-hulle gereeld doen. Dié pesto is heerlik saam met enigiets en jy maak dit so: 

Napolitaanse Pesto

Bestanddele:
1 ½ tot 2 Koppies basiliekruidblare
2 Koppies kersietamaties
1 Knoffelhuisie
1 Teelepel growwe sout
½ Teelepel rooipepervlokkies
½ Koppie Virgin Olyfolie 
½ Koppie geroosterde amandels
½ Koppie Parmasaankaas 

Metode:
Voeg al bogenoemde in ‘n menger en meng tot taamlik fynerig en bottel – so maklik soos val uit ‘n boom uit! 

Tagliatelle-pasta en maalvleisbolletjies

Bestanddele:
Water om pasta te kook
Sout 
Ekstra Virgin Olyfolie 
1 x Pak Tagliatelle-pasta
1 kg Maalvleis waarmee jy klein maalvleisbolletjies maak
Knippie sout en peper na smaak vir die maalvleis
1 Teelepel Italiaanse speserye 
1 x 250 g Mascarpone-roomkaas
2 x Koppies Napolitaanse pesto
Vars Basiliekruid

Metode:
Kook pasta in water met bietjie sout en ‘n eetlepel olyfolie sodat pastastukkies nie aan mekaar vasklou nie. Onthou – jy wil die pasta Al dente hê? Intussen maak jy klein maalvleisbolletjies gegeur met sout peper en ‘n bietjie Italiaanse speserye. Braai dit in ‘n pan met bietjie olyfolie of maak dit in ‘n lugbraaier gaar.  
Sodra die pasta Al dente is,b gooi die water af. Plaas terug in die pot. Meng 1 x 250 g Mascarpone-roomkaas met die pasta, voeg die vleisbolletjies by en 2 koppies van die Napolitaanse Pesto en meng goed. Bedien warm met vars basiliekruid en met ‘n klein bietjie verbeelding kan jy ‘n vinnige kuiertjie in Italië geniet.