20
Mon, May

Platters
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Met die nuwe jaar wat nou al ‘n maand oud is en dosyne kinders wat vir die eerste keer moet skool toe en ander wat moet hoërskool toe, sukkel baie mammas seker nou nog om behoorlik tot verhaal te kom nadat die meeste van ons met die lekker leeglê-dae van die Desember-skoolvakansie gekondisioneer geraak het. Dit is regoor die wêreld ‘n bekende uitdrukking dat ‘n ma se werk nooit klaar is nie – laat gaan slaap om seker te maak dat Jan en San se huiswerk klaar is en vroeg uit die vere sodat daar ietsie lekkers vir die kroos saam skool toe ingepak kan word. En so veeleisend soos die wêreld deesdae is, is die dae van “gewone ou skoolbroodjies” vir baie van ons lankal verby – nee, vandag se kinders moet behoorlike kos kry dat die dag nie te lank word nie. Vir mammas wat nie altyd weet hoe om die pas vol te hou nie, is Mariëtte Venter in Rustenburg net die oplossing. Mariëtte is ‘n dametjie met ‘n deeglike agtergrond in die restaurantwese, van die Spur-groep tot Milaneza in die Mall. Mariëtte is as’t ware ‘n voedingskundige wat die kunsies van kalorieë ens, ens lankal agter die blad het. As Mariëtte dus vir Boet ‘n kosblik gepak het, kan jy maar weet Boeta se fut sal soos die bekende Duracell-haas nie sommer opraak nie en ja, jy kan op bestelling elke dag vir Boet of Sus ‘n kospakkie inpak wat hom of haar met groot verwagting na groot en klein-speeltyd sal laat uitsien.

“Me Time Café” – ‘n “tuisnywerheid” wat gebalanseerde etes vir volwassenes, kinders en mense wat gewig wil verloor, voorberei, is Mariëtte se antwoord vir hierdie gejaagde lewe. Behalwe om die lewe vir besige mammas baie makliker te maak en vir Boeta ‘n slim kind op skool te maak, het Mariëtte se dieetprogramme sommige dames al meer as 20 kg laat verloor. Ons het vir Mariëtte gevra om vir ons twee kospakkies saam te stel en voor te berei vir onderskeidelik ‘n eerste- of tweedejaar-leerling en ‘n kind wat darem nou al ‘n paar jaar op skool is.
Vandeesweek gee ons die eenvoudige resep en metode vir eersgenoemde en aanstaande week kan mammas sien hoe Mariëtte se kospakkie vir ‘n ouer kind lyk. Onthou dat Mariëtte gebalanseerde etes teen geringe fooie voorsien en plak gerus haar besonderhede hier langsaan op jou yskas – ‘n mens weet nooit wanneer jy dalk onverwags uit stoom hardloop nie… Mariëtte se kospakkie vir ‘n jong laerskoolkind lyk so:

Voedingswaarde per porsie (2 muffins)

388 kalorieë
1 suiker
45 vet
46 koolhidrate

Bestanddele:

1 koppie gaar macaroni-elmbogies
1 koppie tuisgemaakte witsous
60 g gerasperde kaas

Metode:

Meng die macaroni met die witsous. Skep dit in ‘n klaar gespuite muffin-pannetjie. Sit die kaas bo-oor en bak in die oond teen 180°C vir 10 min. Sit die oond op rooster en bak net tot die kaas lekker gesmelt het en krakerig is. Laat afkoel en skep uit die muffin-pannetjie. Vir variasie: Meng gaar hoender, stukkies spek, maalvleis of ham by. Bedien met ‘n handvol lekker groot druiwekorrels, ‘n paar stukkies happiegrootte Weense worsies wat effens oopgesny is en in mikrogolf verhit is sodat dit lekker kan “blom” en laastens ‘n paar skyfies komkommer.
Jy kan ook vir Mariëtte vra om jou op haar daaglikse lysie te sit – skakel haar by 082 306 1983. Hou ons kook aanstaande week dop vir Mariëtte se lekker, maklike kospakkie vir ‘n ietwat groter kind sodat jou Jan ‘n regte SlimJan kan bly…