20
Mon, May

Platters
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Mens raak effens moeg vir die gewone ou goedjies voorberei. 

Boonop vertel jou kop jou mos ook dis tyd vir ietsie anders. Nou, daardie kere wanneer jy lus is vir iets, maar jy weet nie regtig vir wat nie, probeer rysballe. Dis nie moeilik om te maak nie, maar dis nou ook nie ‘n gereg wat jy binne minute aanmekaar gaan slaan nie.
As jy dus ‘n uur of so op hande het, en jy wil jou huismense – of gaste – regtig bederf, is hierdie lekkernye nét die happies om te berei en voor te sit.

Bestanddele:

1k ongekookte rys
Knippie sout
10ml paprika
5ml swartpeper
50ml botter/margarien
2k kookwater
Klein ui, fyn gesny
1 knoffelhuisie, gesnipper
100g chedder/goudakaas, in blokkies gesny
40g parmesaankaas
1 eier (geklits met bietjie melk)
Droë broodkrummels
Olie vir braai
1 glas wyn (eie keuse), vir die kok

Metode:

Roerbraai die uie, knoffel, rys en speserye.
Gooi kookwater by en laat kook die rys soos gewoonlik – min of meer 15 minute.
Rys moet al die vloeistof geabsorbeer hê.
Laat koel effens af.
Klits die eier met ‘n klein bietjie melk, voeg die kaas en rys by.
Bedek en los in die yskas vir 20 minute.
Sit die broodkrummels in ‘n vlak bak.
Maak balletjies met die rys en rol in die broodkrummels.
Verhit die olie in ‘n pan en braai die balletjies tot goudbruin (ongeveer 2 minute)
Skep uit en dreineer op handdoekpapier.
Bedien saam met ‘n doopsous van jou keuse.