18
Mon, Nov

Beef
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Of jy nou daarmee grootgeword het (soos ek) of nie - maar vandeesweek maak ons regte smulkos! Dit is darem maar snaaks hoe 'n kind se kop soms werk? Ek onthou goed toe ek nog 'n jong laerskoolseun in ons huis was. Ek was die jongste "spruit" in die huis en natuurlik het my mening of opinie die minste saakgemaak. Ai - ek onthou goed, as 'n opgeskote knaap was ek glad nie lief vir vleis nie - ek kon dus nooit die hele gedoente rondom braaivleis kleinkry nie. Ja, van die aartappelslaai het ek baie gehou. Ook van die braaibroodjies, maar nee, net 'n baie klein stukkie vleis asseblief! 
(In min of meer dieselfde tyd, het ek ook geleer om "groot agting" vir 'n tante van my se sjokoladekoek te hê. My moeder het selde koek gebak want pa was 'n "suurknol" wat nie veel ooghare vir soetgoed gehad het nie. So, tante So-en-So se gebak was vir my heerlik. Totdat my verstandtande op 'n goeie dag heeltemal uitgegroei was en ek 'n wonderlike ding soos kerriefrikkadelle raakgeloop het.

My ouers het daarna geen moeite ondervind om my na 'n "braaivleis" toe te nooi nie en ek was baie bevoorreg om te weet dat al drie of vier kerriefrikkadelle op die eetkamertafel myne was! Vandag is dit steeds so - boontjiesop, kerriefrikadelle, sjokoladekoek (maar veral braaivleis) is groot in ons huis. Die afgelope naweek was ons sommer baie bly om oor 'n klompie heerlike, geurige kerriefrikkadelle nostalgies te raak. Ons het Edaleen Strydom van Rustenburg Herald se skoonseun - Nathaniel Smit en kleindogter Charniel gevra om ons te wys hoe hulle dit voorberei... 

Bestanddele:

9 snye growwe brood;
1 liter kookwater;
3 kg maalvleis
4 eiers, geklits
10 ml (2 t) fyn neutmuskaat
7.5 ml (½ e) fyn naeltjies
7.5 ml (½ e) peper
45 ml (3 e) sout of na smaak
koekmeelblom

Sous
125 g vet of botter
10 groot uie in ringe gesny
250 ml (1 k) koekmeelblom
125 (½ k) suiker
15 ml (1 e) sout
60 ml (4 e) matige kerriepoeier
30 ml (2 e) borrie
500 ml (2 k) bruin wynasyn
400 g appelkooskonfyt
1.25 l (5 koppies) warm water
12 piesangs

Metode:
Voorverhit die oond tot 190°C. Berei die frikkadelle so: Week brood in kookwater. Meng al die bestanddele goed. Maak frikkadelle (60 tot 70) en rol elkeen in koekmeelblom. Pak frikkadelle los in gesmeerde bakskottels. Maak nou die sous: Verhit vet in 'n groot kastrol en smoor uieringe liggies daarin. Meng koekmeelblom, suiker, sout, kerriepoeier, borrie en asyn. Meng konfyt eers met 500 ml (2 k) van die warm water en voeg dan alles by die uie, behalwe die piesangs. Laat dit goed deurkook. Sny piesangs in skyfies en rangskik op frikkadelle. Giet kerriesous bo-oor en bak vir 90 minute lank. Genoeg vir 30 tot 50 mense. 
Wenk: Die frikkadelle kan vooraf gemaak en die volgende dag weer voor gebruik in die oond opgewarm word.