21
Sat, Dec

Beef
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Met die betreklik goeie verteenwoordiging van die Indiër-gemeenskap in Suid-Afrika en in besonder ook Rustenburg, het verskeie tradisionele Indiërgeregte deur die jare 'n gunsteling onder alle Suid-Afrikaners geword. Dit is vir niemand meer nuus dat die lof van kerrie, borrie en ander "warm goed" uit die Indiër-kultuur sommer baie gereeld in kos- en kookprogramme op televisie en radio besing word nie. Wat is nou lekkerder as kerrie-en-rys as die windjie daar buite geniepsig is en 'n mens se maag hongerpyne kry?

Maxine van Aswagen en manlief Jan is altwee lief vir kerriegeregte en dié maklike een wat ons vandeesweek voorsit, is een van hul gunstelinge. Ons noem dit sommer Maxine se Kerrievleis- en Pitabroodjieresep... Dit is so maklik soos val uit 'n boom uit en word soos volg gemaak:

Maxine se kerrievleis en pitabroodjieresep
O herrie, dis kerrie!

Bestanddele:

500 g biefstuk in repies gesny
1 groenrissie in stukkies gesny
een medium ui in stukkies gesny
'n paar mooi sampioene in stukkies gesny
2 teelepels knoffel
2 groterige teelepels kerriepoeier (na smaak)
250 ml vars room
1 pitabroodjie (by jou kruidenier)

Metode:

Braai die biefstukrepies lekker gaar en sag in botter. Voeg die groenrissie, uie, sampioene en knoffel by en braai tot redelik gaar en sag. Voeg nou die 250 ml room by en roer goed deur. As jou room goed deurgemeng is, kan jy die kerriepoeier byvoeg. Maxine sit ook ongeveer twee eetlepels suiker by om die Kerrie 'n effe soeterige smakie te gee en die brandsmakie 'n bietjie "vriendeliker" te maak...

Pitabroodjie

Voorverhit jou oond tot 180°C. Besprinkel jou Pitabroodjie met 'n paar "vingers" koue water en plaas in die oond vir sowat 4 tot 6 minute. Haal uit die oond en bedien jou biefstukrepies en mengsel saam met 'n stukkie pitabrood. Al te lekker vir 'n vinnige ontbyt of dalk 'n warm happie op koue wintersaande voordat jy in 'n lekker warm bed gaan kruip.