21
Sat, Dec

Beef
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Daar is ‘n episode van die gewilde Amerikaanse situasiekomedie (ook bekend as ‘n sitcom), ‘How I Met Your Mother’, waartydens die karakters van hierdie storie die hele New York deur reis op soek na wat beskryf word as die perfekte burger. Elke keer kry hul iets soortgelyks maar tog is daar net daardie besonderse burger wat bo die res uitstaan.
Selfs in hierdie afdeling van die Rustenburg Herald is daar ook al in die verlede gesoek na die perfekte toebroodjie.
Hierdie einste korrespondent het ook al ‘n soortgelyke gereg op die proef gestel en (tot onlangs) homself oortuig dat hy die beste burger in Rustenburg kan maak. Dit is, totdat hy hierdie week se resep geproe het – ‘n toebroodjie soos min, ‘n burger in ‘n klas van sy eie!

Hierdie week het Lunel Klopper saam met Sarah en die res van die Melkstalpersoneel vir die Rustenburg Herald ‘n besonderse lekker kaas- en beesfilet-gevulde “baguette” voorberei. Hierdie gourmet-toebroodjie is nie net ‘n toebroodjie in ‘n hele ander klas nie maar dit is gewaarborg om ‘n “hit” te wees of jy dit nou vir jou familie voorberei of vir jou gaste.
Dit is beslis die tipe burger wat smaak na nog!

Bestanddele:
10ml olyfolie
Knippie sout
‘n Mildelike “knars” van swartpeper
1 helfte van ‘n Franse “baguette”-brood
125ml gemengde soetrissies, in repies gesny
1 teelepel vars gekneusde knoffel
1 helfte van ‘n ui, in blokkies gesny
120g beesfilet-repies
3 eetlepels BBQ-sous
3 eetlepels Cheddar- en Mozzarella-kaas, gerasper
125ml gaar sampioene, in repies gesny
5ml “veggie spice”-speserye

Metode:
In ‘n braaipan, roerbraai die beesfilet-repies in 5ml olyfolie tot dit ligbruin is of na jou smaak, maar wees versigtig om nie die vleis te brand nie! Strooi die sout en swartpeper oor die vleis en skep dit in ‘n kleinbordjie. Voeg die BBQ-sous by en roer goed.
In ‘n aparte pan, roerbraai die oorblywende olyfolie, soetrissies, uie en knoffel tot sag maar ferm en voeg dan die sampioene by. Roerbraai totdat die sampioene sag is en voeg dan die “veggie spice” by (alternatiewelik gebruik sout en peper). Plaas bestanddele eenkant.
Sny die brood in die helfte en dan in die lengte af sodat jy vier kwarte het. Smeer die binnekant botter en rooster die brood tot ligbruin.
Verdeel die soetrissies, uie, knoffel en sampioene tussen die brode op ‘n bord wat in die mikrogolf kan pas. Voeg die beesfilet-repies bo-op en dan die kaas. Mikrogolf die broodjies op hoë hitte tot kaas gesmelt is. Haal die broodjies uit (wees versigtig vir brand!) en plaas die ander kwart bo-op om ‘n toebroodjie te vorm. Gebruik tandestokkies om die broodjies in plek te hou. Bedien met vars gebraaide aartappelsyfies.