Rustenburgers wat daarvan hou om die vingers op die pols van die oond, die resepteboek en kombuissake te hou, sal waarskynlik lankal reeds gehoor het van Pamela Mostert, ‘n relatiewe nuwe inwoner van Rustenburg en iemand wat die afgelope nagenoeg twee dekades in ‘n ware kosmaakguru ontwikkel het… Uiteraard is Pamela ‘n groot aanwins vir Rustenburg!
Pamela beskryf haarself as iemand met ‘n passie vir kosmaak en het talle koskursusse by prominente “sjefs” soos Carolie de Koster, Minnie Mostert en anderbekendes gevolg. In 1999 begin sy om self kosklasse in die Vrystaat aan te bied en maak ook haar buiging by feeste in die omgewing. Vinnog word die eerste insetsetsels op Fiesta vertoon en in 2005 tree sy saam met David Viljoen van Pasella asook Tuine en Tossels tydens Nampo op. Die res is geskiedenis soos ons graag sê en vandeesweek is Pamela ons gas in Raak die “klits” kwyt…
“Een van my eevoudige geregte waarvan almal blykbaar hou, is die maalvleisrol. My weergawe lyk so:”
Bestandele
125 ml witbroodkrummels;
125 ml tamatiesap;
125 ml fyngekapte pietersielie;
2 eiers;
1 knoffelhuisie (fyngemaak);
7 ml sout;
2 ml gedroogte tiemie;
‘n tikkie swartpeper;
1 kg maalvleis;
250 g gaar hamskywe;
500 ml gerasperde beleë Cheddarkaas.
Metode:
Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ‘n rolkoekpan uit met foelie. Week die broodkrummels in tamatiesap. Voeg pietersielie, eiers, sout, tiemie en peper by. Voeg die maalvleis by en meng goed.
Skep vleismengsel op foelie, dan die ham en die kaas bo-oor. Rol die mengsel op. Plaas in pan met die naat na onder. Bak vir ongeveer 1 uur. Wanneer die rol yskoud is, rol toe in blaardeeg. Smeer kante met water waar deeg bymekaar kom om ‘n netjiese seël te maak en verf met geklitste eier. Stel die oond op 200°C en bak tot mooi goudbruin.
Een van die wonderlikste dinge van die maalvleisrol is dat ‘n mens dit feitlik met enigiets kan voorsit. Van gebakte aartappels, tot skyfies, ‘n lekker broodjie, sommer net slaai of waarvan die familie of vriendegroepie ook al hou.