Nouja mense, die ouens wat nie vandeesweek met vakansie is nie, het seker nie ‘n “werk” nie - of met apologie aan al ons ywerige tuisteskeppers en natuurlik die mense wat inderdaad ‘n werk het, maar nie so gelukkig soos derduisende ander Suid-Afrikaners is as om die volgende klompie dae - veral die spesiale feesdae - te midde van ‘n heerlike vakansiestemming, te ontspan nie. Aan diégene gee ons graag ‘n bietjie erkenning en aanmoediging deur te sê - “sommige mense moet seker maar werk om te sorg dat die land darem aan die gang bly...?” Sterkte dus aan dié manne en vroue wat in hierdie wonderlike vakansieseisoen vroeg opstaan of laat gaan lê om die ratte van die nywerheid ge-olie en aan die rol te hou... Maar vir die res van ons - wel ja, - dit is vakansietyd en dit is nou nie altemit nie, soos die oumense gesê het...
Maar vroue oor die algemeen sal sekerlik van die eerstes wees om te sê dat ‘n vrou se werk nooit regtig heeltmal ophou nie. In die vakansieseisoen is dit eintlik maar net die manne en die kinders wat nou ook by die huis is en as’t ware eintlik onder die vroue se voete is terwyl ma haar met elke dag se take besig hou. Wie anders as ma gaan dan nou in die vakansieseisoen die kleingoed se beddens opmaak, toesien dat hulle magies vol ontbytpap is of seker maak dat die regte vleis vir vanmiddag of vanaand se braai uitgehaal word - ons hoop nou nie daar is manne wat hierdie tyd van die jaar ook verwag dat die vroue in die kombuis moet regstaan nie - dit geld natuurlik darem nie vir die arme ouens wat te midde van hierdie feesatmosfeer moet gaan werk nie...
Maar vir die vroue wie se manne dalk by die werk is en wat in hierdie feesgety nou nie werklik geroepe voel om met ‘n uithalers-spyskaat vorendag te kom nie, klop ons vandeesweek aan by Elsa Doubell en Melissa Louw - twee dames wat hulle stemme behoorlik dik gemaak het in die pas-afgelope Mev Rustenburg-kompetisie. Melissa is uiteindelik as Mev Rustenburg gekroon terwyl Elsa as “people’s choice” aangewys is.
Rustenburg Herald se “kookspan” het verlede week by die twee ingeloer waar hulle vir ons sommer vinnige maar baie lekker kitskos vir die jongklomp of die lekkerbekke aangeslaan het - regte vakansiekos en vir die gesondheidsbewustes onder ons ja - daar is darem ook ‘n paar stukkies rou wortel, pynappel, ‘n stukkie kaas en ‘n skyfie tamatie ingesluit om seker te maak dat ons darem ‘n titseltjie groente in ons bordjie het.
Die res is ongelukkig (of moet ons sê gelukkig?) pure “hamburger” en selfs nog lekkerder as wat ons verwag het. Melissa en Elsa beveel aan dat jy die “hamburger” met ‘n Pietabroodjie of ‘n gewone “Wrap” maak om dit so ‘n klein bietjie meer oorspronklik te maak. As jy nou regtig nie een van dié twee op die winkelrakke kry nie, kan jy maar vir ‘n gewone hamburger-broodjie gaan - dit is tog eintlik maar die vulsel wat werklik belangrik is... Vir die spesiale vakansieseisoen dus, maak jy jou Pieta-, Wrap- of gewone hamburger soos volg:
Bestanddele:
Egte maalvleis-”patty”,
Kaas,
Pynappelringe
Tamatieskyfies,
“Wrap”, Pietabroodjie of gewone ronde broodrolletjie;
Blaarslaai.
Metode:
Maak patty gaar in lekker olyfolie. Pak eers blaarslaai, dan lekker vars tamatie, dan ‘n volle pynappelring, dan “patty” gevolg deur die kaas bo-op die patty sodat die kaas ‘n bietjie kan smelt. Kies vir jou ‘n lekker sousie waarvan veral die jongklomp sal hou - spuit dit lekker vol sodat die kinders vir ‘n bietjie ekstra vakansiepret met ‘n lekker soussnor kan spog...
Nagereg:
Vir nagereg (as dit nou regtig nodig is) het ons sommer op melkskommel besluit en vir die soettande malvalekkers met ‘n sjokoladesous wat kliphard gevries is. Steek ‘n paar malvalakkers deur ‘n sosatiestokkie, gooi romerige sjokoladiesous of karamel bo-oor, gooi “hundreds & thousands” (sprinkles) bo-oor en plaas in die vrieskas om te stol. Haal uit en bedien as jy seker is die kinders sal nie nog ‘n enkele hamburger in hul magies kry nie... Dankie Elsa en Melissa - ons kan getuig dat dit regtig heerlik is - vakansiekos op sy beste!