21
Sat, Dec

Beef
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

‘n Slim ou met bewese agtergrond in die sakewêreld het by geleentheid gesê as jy wil seker maak dat jy altyd ‘n broodjie sal hê om te eet of dat daar altyd ‘n aanvraag na jou dienste sal wees, moet jy in die kosbedryf wees…

Vandag is daar seker baie suksesvolle mense wat hierdie stelling kan beaam. Maar ons kan nie help om te wonder of daar nie maar ook net soveel mense is wat kan aanvoer dat die kosbedryf en veral die restaurant- en hotelwese ‘n ondankbare en wispelturige “baas” is wat dikwels nie sy beloftes nakom nie en telkens ‘n neiging openbaar om mense teleur te stel.
Vir Nelia Lewis en haar span by Peglerae Kafee (ja die restaurant by Peglerae-hospitaal) is elke dag veeleisend, dog vol variasie en waarskynlik meer van ‘n roeping as bloot ‘n lekker manier om ‘n inkomste te verdien…

Nelia vertel dat ‘n “restaurant” by ‘n hospitaal inderwaarheid ‘n pastorale/maatskaplike fasset het wat meer van jou vra as die kafee of restaurant om die hoek. Maar net so is die beloning ook groter, ‘n mens ontwikkel in baie gevalle ‘n spesiale verhouding met heelparty van jou kliënte en jy moenie verbaas wees as sommige hiervan eerder “pasiënte” as kliënte is nie want dikwels is ‘n bemoedigende klop op die skouer nie al wat nodig is nie.

Maar hierbenewens kan Nelia en haar Peglerae-span ook ‘n “ondeunde” ontbyt opdis… Ons kookspan het onlangs “skoolsiek gespeel” en by Peglerae-kafee vir ‘n heerlike ontbyt aangesit. Ons is met ‘n klassieke gebraaide bief-broodrolletjie en alles wat daarmee saamgaan, bederf. “Alles” sluit onder meer in dungesnyde bief, karamel-uie, tamatie, mozzarella-kaas en ‘n lekker Mayo-toebroodjie. Dit word só gemaak:

Bestanddele: (vir elke porsie)
1 broodrolletjie; 
30 ml Mayonnaise;
40 g slaaiblare;
1 g gedroogte pietersielie;
200g rou skyfies; (chips);
1 g grasuie;
2 snytjies gebraaide bief;
‘n skyfie of 2 tamaties;
‘n bietjie mozzarella-kaas;
30 g uie;
sout en peper/geurmiddels.

Metode:
Sny die broodrolletjie in twee helftes en plaas vir nagenoeg 30 sekondes in rooster. Spoel slaaiblare in water af en plaas in yskas tot gebruik. Diepbraai 200g skyfies per porsie tot gaar – haal uit en plaas op papierhanddoek om te dreineer. Braai uie in olie tot goudbruin. Sny tamaties in kleinerige blokkies.

Smeer geroosterde broodrolletjie-halwes met Mayonnaise. Bedek met slaaiblare en helfte van die bief bo-op. Bedek met helfte van die karamel-uie, tamatie en Mozzarella-kaas bo-oor die bief. Herhaal laasgenoemde twee stappe ten einde betanddele uit te put.

Plaas Mayonnaise in ‘n spuitbottel. Bespuit die broodrolletie(s) met ‘n heen-en-weer-aksie. Strooi gekapte grasuie oor broodjie. Plaas skyfies in teenoorgestelde kant van bord en strooi geurmiddels – strooi ook gedroogte pietersielie rondom die bord. Bedien met lekker groot koppie koffie soos verkies – val weg en bon appetite!