20
Mon, May

Lamb
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

So 'n klompie jaar gelede sou relatief min mense in Suid-Afrika of in die wêreld (behalwe mense met rooi hare en sproete) gedink het dat enigiets wat met pampoen te doen het, 'n spogresep en 'n lekkerny kan word.

Maar gelukkig word ons mense so met verloop van tyd al hoe meer vindingryk en skeppend. Hoewel daar mense is wat meen dat pampoen nie noodwendig 'n buitengewoon voedsame groente is nie, is daar deesdae meer mense wat besef dat dit inderwaarheid baie smaakvol en watertandlekker voorgesit kan word. Dis nou benewens die feit dat pampoen ook uiters bekostigbaar is en dat jy met 'n enkele pampoen sommer 'n groot tafel se gaste se magies sal vol kry - het jy byboorbeeld al van pampoentert gehoor? Dis 'n nuutjie wat al 'n rukkie lank met ons is en wat mense reeds in 'n taamlike paar variëteite ontwikkel het.

Ons het onlangs by Vasti en Phillip Botha se tafel aangesit - waarskynlik die laaste "amptelike" ete wat Vasti-hulle in hul "huidige" woning aangebied het - die Bothas het verlede naweek na 'n lekker groot huis getrek - iets waarna die twee vreeslik baie uitgesien het. Ja, dié dak sal seker ook nog later natgemaak moet word...

Maar kom ons vertel julle wie ons gasheer en gasvrou is... Phillip is 'n bekende helikopter-instrukteur saam met wie ons hier by die Herald taamlik gereeld die voorreg gehad het om in die lug rond te hang en Vasti is 'n egte "diereregte-aktivis" - toemaar - ons speel sommer - Vasti werk met probleemdiere by die ou Departement Natuurbewaring (Omgewingsbewaring) en is geweldig lief vir diere... So - jy wil nie met jou pelsjas by haar opdaag nie - al is dit hoe koud...

Vasti en Phillip het vir ons 'n absoluut-heerlike ontbeende skaapblad en poedinglekker pampoentert voorgesit. Ons deel graag haar resep vir die pampoentert met die lesers - jy sal nie glo hoe lekker 'n pampoen kan smaak nie...

Pampoentert

Klits die volgende saam:
125 gram botter (gesmelt)
3 groot eiers
1/3 koppie suiker (bruin of wit)

Sif die volgende saam:
1 koppie koekmeel
3 teelepels bakpoeier
knippie sout

Meng nou al die bestanddele saam. Sit ongeveer 1 kg gaar pampoen (enige pampoen van jou keuse - sonder suiker) by die mengsel en giet in oondbak. Bak vir ongeveer 45 na 50 min in die oond teen 180 °C.

Vir 'n lekker sousie kook jy die volgende saam oor lae hitte:
1 koppie Idealmelk
1/3 koppie suiker (bruin of wit)
knippie sout
1 teelepel Vanilla of caramel-ekstrak
Die sous word oor die pampoentert gegooi sodra dit uit die oond kom. Bedien warm met braaivleis of kookkos!

En dan sommer vir "regte" poeding gaan lees jy die pragtige, kostelike en deernisvolle Afrikaanse gediggie waarvan ek die naam nie eers meer kan onthou nie - dit gaan so:
"Oom Thys de Beer van Lekkerdraai
het akkers vol pampoen gesaai
Maar ai, oom Thys moes bitter kla
omdat die bobbejane pla...