20
Mon, May

Lamb
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Toe ons kinders was (en toe ons ouers kinders was) was vrugte steel een van die gewildste aktiwiteite in die vroeë oggendure van naweke en vakansies en waarom sou dit tog so wees dat dominee se vrugte altyd die soetste moes wees? En “slim” vrugtediewe het geweet - jy gaan steel nie dominee se vrugte laat Saterdagnag of bitter vroeg Sondagoggend nie want dit is wanneer dominee onrustig in sy tuin rondloop en vir oulaas probeer om sy preek van daardie Sondagoggend gememoriseer te kry en te besluit waar en wanneer hy moet onthou om met sy vuis op die kansel te slaan. Laasgenoemde het ‘n dubbeldoel gehad - eerstens om ‘n bietjie ekstra gewigtigheid aan sy preek te verleen en tweedens, om die ou omies in die kerkbanke wakker te maak sodat die kollektebordjies nie ongemerk by hulle verby sou gaan nie. Of altans - só het ons kinders geskerts in die goeie ou dae toe self die oueres van ons nog half kinders was - dit was voor die dae van TV toe radio en musiekaande (en braai natuurlik) basies die enigste vorms van vermaak was.

Van braai gepraat - dit was natuurlik in die tyd toe die meeste mense nog skaapvleis kon bekostig. Skaap is vandag so duur dat ‘n mens seker nie kan help om te wonder of dit nie dalk gesteelde skaaptjoppies was wat jou buurman gist’raand so ewe lekker gebraai het nie. En dit liewe lesers bring ons by ons spyskaart vandeesweek - figuurlik gesproke “gesteelde” skaapskeen (“shank”) volgens die oorspronklike vertaling. Dit is vandeesweek toevallig ook die heel laaste aflewering in ons reeks kook- en kosmaakartikels met lede van Rustenburg Rotary. Ons sê dankie aan Elsa Doubell wat gehelp het om hierdie reeks artikels te koördineer en die Rotariërs wat so lekker saamgespeel het. Met ons laaste kuiertjie in ‘n Rotary-kombuis was Mike and Amanda Agathagelou ons gashere en dit was voorwaar ‘n genoeglike aand - dan ook baie gepas dat ons met die bydrae van die Agathagelous afsluit...  

En ja, moet nie lag nie, Lams-kleftiko is afgelei van “gesteelde” lams- en bokvleis - die gunstelingkos van die antieke Griekse bergbewoners. Die “Klepths” het ‘n gewoonte daarvan gemaak om skape en bokke van kleinboere in die landelike gemeenskap te steel en dit in ondergrondse stowe/oonde/vure voor te berei sodat die heerlike geur van gebraaide vleis nie hul nabyheid verraai nie.
Om opregte kleftiko voor te berei soos die destydse skaapdiewe dit gedoen het, is eintlik baie eenvoudig. Wat jy nodig het is ‘n skaap “shank” (skeenbeen - maermerrie/skenkel - ‘n lekker grote of twee as dit kleinerig is) vir elke gas aan jou tafel. Lekker aartappel-helftes of snytjies, dalk ook ‘n paar stukkies wortel, ‘n klompie snytjies vars tamatie, knoffel, gesnyde uie, Oregano, lourierblaar en sout en peper is al wat jy nog nodig het.

Strooi jou speserye en geurmiddels sommer mildelik oor jou “shank” - vou dit dan toe in ‘n dubbellagie foeilie (met die blink kan binne - nie “bo” nie!) en laat vir nagenoeg vyf tot ses ure teen 160 tot 180°C in die oond tot gaar en sag stowe... Vir diegene wat daarvan hou, kan ‘n druppeltjie of twee suurlemoensap net voor jy die foelie toevou, geen skade doen nie... Jy kan die prentjie afrond met ‘n lekker groot bord mengelslaai wat aantreklik gerangskik is.