20
Mon, May

pork
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Nouja, die tyd om die braaivure te stook en te midde van soel somerdae (of aande) saam met vriende in die lapa te ontspan is vinnig besig om onder ons “uit te hardloop” soos die jongmense sê. Vir diegene wat nou al byna die hele somer met die idee in die agterkop loop om so-ens-so vir daardie lank-beloofde “braai” te nooi, is hierdie nou net die geleentheid waarvoor u gewag het.

Wie hou nie van ‘n eisbein wat lekker lekker krakerig en bros maar sappig “gebraai” is nie? Nee kyk, dit is nie maklik om ‘n smaaklike eisbein te klop nie en boonop is dit ‘n gereg wat vir ‘n verandering nie op die konvensionele braaivuur gaargemaak word nie – dus sal die winter jou nie met jou braaitang om die enkels vang nie.

So kort voor die winter van 2011 ons vanjaar tref het ons span van “Raak die ‘klits’ kwyt” by Landdros Restaurant en Gastehuis (in Landdrosstraat natuurlik) aangesit vir ‘n smaaksensasie waarvoor ons om die waarheid te sê nie heeltemal voorbereid was nie. Hier word ‘n man se asem byna weggeslaan met die heel eerste happie van ‘n werklik voortreflike eisbein – loshande die beste wat tot dusver geproe het – met respekte gesê aan alle ander restaurante en braaimeesters wat hul uitgee as kundiges by die braaivuur.

Elk geval – om ‘n eisbein “korrek” voor te berei – is nie “sommer net nie” – sal ‘n mens vinnig hoor by dié wat weet. Daarom dat ons onsself nie slim hou nie en geduldig wag totdat die sjef met sy verrassing en ‘n breë glimlag by ons tafel opdaag. Ons kon nie anders nie as om vir Rudi (van der Westhuizen) en Ferdie (Minnaar) te sê welgedaan manne – dit is ongetwyfeld ‘n wenresep! Vir ons lesers kan ons sonder huiwering sê – moenie langer uitstel nie – nooi daai vrinne so gou moontlik en doen dit soos volg:

Diepgebraaide Eisbein
1 (of soveel jy wil) 800g – 1 kg gerookte eisbein; 
Lourierblare, tiemie en swart korrelpeper vir kookproses;
Per porsie die volgende:
1 koppie suurkool;’
1 koppie suurroom;
‘n klompie medium-grootte aartappels;
‘n smaaklike bedruipsous van jou keuse;

Metode
Die belangrikste van alles by eisbein is die vooraf-kookproses. Eisbein word vir ongeveer 45 minute in ‘n mengsel van kruie, onder meer lourierblare, heelswartpeper en tiemie gekook. Na die kookproses moet die eisbein vir ongeveer 1 uur “rus”.

Diep kepe word nou tot op die been gesny om te verseker dat die eisbein met die diepbraaiproses tot op die been gaar word. Die eisbein kan nou gevries word en wanneer benodig, kan dit eenvoudig ontdooi en verder voorberei word.

Die eisbein word nou vir ongeveer 5 minute in warm olie gebraai. By Landdros word die eisbein natuurlik met “Landdros-bedruipsous” afgerond om dit ‘n heerlike smaak en glans te gee. Jou eisbein word bedien met 2 gekookte aartappels met lekker vars suurroom en ‘n stewige porsie suurkool. Bon appétit!