21
Sat, Dec

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Deesdae hou nie "almal" meer so baie van die Amerikaners as in die ou dae nie en in die laaste klompie jare blyk dit (of is dit indoktrinasie?) dat al hoe meer mense oor die wêreld heen se oë oor die Amerikaners begin oopgaan het. Maar ja, kom ons praat nie hier politiek nie en bepaal ons by kos maak... Maryke Nel - ons Mej Rustenburg Herald 2017 is vandeesweek aan die beurt in ons "raak die 'klits' kwyt" en maak vir ons tipiese "subs" - die Amerikaanse woord vir 'n gevulde broodrolletjie wat die "Yanks" om die een of ander rede aan 'n duikboot laat dink - vandaar die naam "subs". 

Maryke gebruik egter nie die tipiese broodrolletjie vir haar "subs" nie maar die immergewilde, ronde, Portugese broodjie wat sommer net baie beter in 'n mens se bord vertoon. En belangriker nog - met die koue waarmee ons tans saans met etenstye te kampe het, kan 'n mens darem so 'n ietwat groter skeppie van jou vulsel op 'n ronde broodjie kry. Maar kom ons laat Maryke toe om haar resep met ons te deel - dan stop jy vanmiddag sommer vinnig na werk by jou kruidenier om die gesin op die vooraand van 'n lekker naweek met 'n smullekker broodjie te verras. Maryke noem dit "Round Chicken Subs"... 

Ronde Hoender-subs

Bestanddele:

4 hoenderfillette
8 ciabatta-rolletjies (uitgehol)
vars pietersielie
gekapte vars sprietuie
400 g gesnyde sampioene
60 g geroosterde, gekapte kasjoeneute (cashew) 
2 teelepels gekapte knoffel
3 teelepels Fajita hoenderspeserye
'n half-teelepel sout
1 koppie gerasperde kaas

Metode:

Braai die hoenderfillette (gekap) vir ongeveer 10 minute. Voeg sampioene by en braai vir verdere 10 minute. Voeg die res van die bestanddele by en braai vir nog 10 minute. 
Voeg heel laaste jou witsous by die mengsel - jy maak die witsous só: 'n Halwe koppie botter; 'n halwe koppie koekmeel en ongeveer 1 koppie melk. Skep vulsel in holtes van die broodjies, strooi gerasperde kaas bo-oor en bak in oond tot kaas mooi gesmelt het. Hierdie resep is genoeg vir 6 tot 8 persone.