24
Thu, Apr

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ons is in herfs en hierdie is my gunstelinggereg om te maak. Ek hou van kosmaak, solank die resep nie baie fieterjasies het nie. Hierdie is ‘n geurige, maklike en bekostigbare gereg. Wat dit so besonders maak is dat die resep aanpas by hoe jy daarvan hou en die hoeveelheid mense wat gaan eet. Verander die hoeveelhede soos nodig. Die groente wat gebruik word, herinner aan herfskleure; wortels, patats, botterskorsies en aartappels. Pas die hoeveelheid groente aan soos benodig. Die groente bak saam met die hoender in ‘n heerlike sous en vorm ‘n perfekte enkelbakgereg. Hoendervleis word wêreldwyd geëet en kan op baie maniere voorberei word. Dit word as deel van ‘n maaltyd soos middagete of aandete geniet. Hoender is ‘n fantastiese plaasvervanger vir rooivleis en is ‘n uitstekende bron van proteïene wat ook gekoppel word aan ‘n verskeidenheid gesondheidsvoordele. Hoendervleis het groot voedingswaarde en word erken as ‘n gesonde en laekostebron van dierlike proteïene, wat dit toeganklik maak vir almal.  

Bestanddele:
• 6 hoenderdye
• suurlemoensap
• sout en peper
(speserye na smaak)
• 20-40g piekel-uitjies
(genoeg na smaak)
• ½  botterskorsie in blokkies gesny
• 2-3 wortels in ringe gesny
• 1-2 patats (met of sonder skil) in repies gesny
• 1-2 aartappels in blokkies gesny
• 200g sampioene gehalveer

Sous
• 15ml kerriepoeier
• 15ml appelkooskonfyt
• 2ml kaneel
• 15ml mielieblom
• 45ml wit asyn
• 200ml opgeloste hoenderaftreksel 

Metode: 
1.  Voorverhit oond tot 180°.
2.  Geur die hoenderdye met druppels suurlemoensap en speserye. 
3.  Pak dit velkant na bo in ‘n groot genoeg oondbak. Al die groente en sous moet ook later inpas. 
4.  Braai die hoender in die oond totdat vel bros is. Hou die oond op 180°. 
5.  Haal uit die oond en versprei die groente eweredig tussen die hoenderporsies.
6.  Meng die sous alles saam en giet versigtig oor die hoender.
7.  Bedek die bak met deksel of foelie en bak vir 40 minute.
8.  Verwyder deksel of foelie. Skep van die sous oor en bak nog 30minute oop. 
9.  Haal uit oond.
10. Sit voor met rys.