Hoewel die era van die “cowboys” al toeka verby is, het ons gasvroue vir hierdie week, ma-en-dogter kookspan, Anne en Teneke Botma, hul inspirasie vir hul familie-bederf-pasta daar doer ver in Amerika gaan haal. In die woorde van Anne: “Enigiemand kan kook. As jy ‘n resep kan lees en instruksies kan volg, kan jy kook of bak. Begin met maklike resepte en skakel dan mettertyd oor na meer ingewikkelde disse. Gebruik jou tyd om te leer en kook vir jou familie - met liefde.” So ook het Anne gesorg dat haar dogter, Teneke, baie tuis in die kombuis en agter die kospotte is. Teneke erken wel dat sy dit meer geniet om te bak en wanneer sy een van die dae voor die kansel staan, hoop sy om soos haar ma die familie te nooi om te kuier – spesifiek vir haar heerlike kos. Dié twee dames is nie net ‘n staatmaker-span in die kombuis nie, maar deel ook ‘n liefde vir skoonheid (hulle werk saam in Anne se skoonheidsalon) en geniet dit om hulself op te tooi – “cowboy”-hoede en –stewels ingesluit. Hoe dan nou anders as mens Cowboy botterhoender-linguine opdis?
Bestanddele:
350 g linguine pasta (of spaghetti)
1 teelepel Himalaja-sout
1 eetlepel ekstra suiwer olyfolie (of sonneblomolie)
2 teelepels hoenderaftreksel-poeier
650 g hoenderborsies (sny in 3 cm happies)
2 eetlepels ekstra suiwer olyfolie
1 ½ teelepels gerookte (of gewone) paprika
1 teelepel hoenderaftreksel-poeier
1 teelepel knoffelsout
½ teelepel Himalaja-sout
½ teelepel swartpeper
½ koppie pasta-water (nadat pasta gaar is)
Sous:
4 eetlepels botter
2 ½ teelepels tamatie-puree
1 koppie room
½ koppie volroommelk
1 teelepel knoffelsout
1 teelepel rooipeper (“Cayenne”, opsioneel)
1 teelepel brandrissie-vlokkies (opsioneel)
¼ koppie gekapte vars pietersielie
Garnering:
¼ koppie gekapte vars pietersielie
2 of meer suurlemoene in wiggies gesny (‘n moet vir hierdie gereg)
1.Voeg een teelepel sout, een teelepel hoenderaftreksel-poeier en een eetlepel olyfolie in ‘n groot pot saam met water totdat die mengsel kook. Voeg linguine-pasta by (moenie die pasta breek nie) en kook vir 13-14 minute. Dreineer en spoel die pasta af en sit ½ koppie pasta-water eenkant.
2. Terwyl die pasta kook, meng die speserye saam - gerookte paprika, knoffelsout, sout, rooi- en swartpeper.
3. Meng die speserye baie goed en meng dan die hoenderstukke in.
4. Voeg olyfolie in ‘n pan en braai saam met die hoenderstukke vir 3-4 minute, oor medium hitte.
5. Voeg twee eetlepels botter by die hoender en braai verder (meng deurentyd) totdat die hoender verbruin, vir ongeveer 3-4 minute.
6. Verwyder die hoender en sous vanuit die pan en sit eenkant – hou die hoender warm, deur dit te bedek.
7. Verlaag die hitte en voeg twee eetlepels botter, die tamatiepuree, room, melk, rooipeper, brandrissie-vlokkies (opsioneel) en gekapte pietersielie in die pan, en laat prut vir 2 minute. Verlaag die hitte, voeg die pasta en hoendersous by en meng (“toss”).
8. Voeg die pasta-water by en gooi die mengsel heen-en-weer in die pan.
9. Garneer die gereg met flokkies paprika en gekapte pietersielie.
10. Bedien in individuele pastaborde met vars suurlemoen-wiggies.