21
Sat, Dec

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Met Rustenburg Herald se onlangse 100ste bestaansjaarvieringe het ons span fotograwe ‘n viermanskap nuwe vriende ontmoet toe ons by geleentheid by dieselfde tafel (of moet ons sê dieselfde biervaatjie?) lafenis teen die bykans ondraaglike temperature gaan soek het – ons moet toegee – ons fees sal vir nog lank onthou word vir dalk een van die warmste dae tot dusver vanjaar. 

Ons nuwe vriende en gashere vandeesweek dus – Zani Kruger en Hanru Buitendach wat vir ons ‘n immergewilde hoendergereg maak. 
Ons lesers sal die res van ons nuwe vriendegroepie binne ‘n week of twee ontmoet. 
Natuurlik kon ons nie die versoeking weerstaan om die heerlike hoenderhappie te proe nie – ons monde het teen dié tyd al behoorlik gewater – so ja, jy moet hierdie een ook maar teen die yskas plak (soos al die ander…) 

Roomhoendergereg 

Bestanddele: 
500 ml room
10ml olie
6 hoenderborsies (fillette)
10 ml Maizena
15 ml melk
2 suurlemoene
4 ml Hoenderspeserye
2 ml Italiaanse speserye (Italian seasoning) 
5 ml SwartPeper (gemaal)

Metode:
Sny die hoenderborsiefillette in blokkies van omtrent 5cm en gooi uit in kastrol. Voeg speserye by die rou hoenderblokkies en braai hoenderblokkies in olie tot gaar. Voeg room by. Meng 10 ml Maizena met 15 ml melk in ‘n aparte koppie. Meng Maizena en melkmengsel by die room en gaar hoendermengsel. Druk sap van minstens een suurlemoen deur ‘n siffie uit en maak seker dat geen pitjies in kastrol beland nie. Kook roomhoendermengsel vir nagenoeg 10 minute tot room verdik het en bedien warm. Zani en Hanru het dié heerlike maaltyd met gebraaide rys (fried rice) en ‘n kleurvolle mengelslaai bedien. Bedien warm. 

Gebraaide rys

Bestanddele:
250ml rys 
1/2 fyngekapte ui
5 ml “Spice For Rice”
5 ml gemaalde swartpeper 

Metode:
Kook rys tot gaar. Gooi water af en was die rys met skoon kraanwater. Gooi al die water deeglik uit sodat rys mooi droog is. In ‘n aparte kastrol, braai die uie tot gaar. Gooi droë rys by die gebraaide uie. Gooi speserye by die rys en uiemengsel. Roer rys goed deur en laat die speserye gaar word op n warm plaat vir 5 minute. Bedien warm.