20
Mon, May

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Vandag kreun die tafels hier by Rustenburg Herald se kookrubriek met ‘n behoorlike maaltyd. Aan die woeker in die kombuis is kollega Susan Cilliers – sedert 2010 Netwerk24 en Beeld se verslaggewer in Noordwes en haar sus Melindi van Rooyen, ‘n maatskaplike werker en direkteur van Childline in Noordwes.
Susan en haar sus is albei inwoners van Potchefstroom in Noordwes en is lief vir die koskuns. Susan en Melindi maak vir ons ‘n hoender- en groentegereg en ‘n aartappelgebak – ‘n lekker gebalanseerde maaltyd!

Hoender en groente
genoeg vir vyf mense.

Bestanddele:

1 heel hoender.
Knoffelsout.
Olyfolie.
Pak gemengde groente (500g).

Metode:

Smeer die hoender met olyfolie en gooi ruim knoffelsout oor die hele oppervlak van die hoender. Sit die hoender in die lugbraaier teen 180 °C. Stel die tyd op 50 minute. Kyk op 25 minute of die hoender nog reg lyk en of dit nodig is om dit om te draai. Indien die hoender ná 50 minute nog nie heeltemal gaar is nie, kan dit vir nog 10 tot 15 minute in die lugbraaier braai.
Gooi groente saam met ‘n bietjie water in ‘n kastrol en kook totdat dit net-net gaar is. Gooi water af. Gooi ‘n eetlepel botter en die sap van ‘n halwe suurlemoen by terwyl die groente nog in die kastrol is. Hou dit dop tot dit effens skroei en haal van die plaat af. Bedien die hoender in ‘n groot opskepbord met groente rondom.

Aartappelgebak
genoeg vir sewe mense.

Bestanddele:

6 mediumgrootte aartappels.
500 ml room.
Knoffel na smaak.
1 pakkie dik, wit uiesop.
Genoeg gerasperde kaas om twee lae aartappelskywe in die bak te bedek.
Genoeg gesnyde sampioene om twee lae aartappelskywe in die bak te bedek.
Sout en peper na smaak.

Metode:

Kook die aartappels tot gaar. Laat dit afkoel, skil en sny in skywe. Gooi die pakkie uiesop en een eetlepel fyn gesnyde knoffel by die room. Meng goed. Pak ‘n laag aartappelskywe en gooi sout en peper na smaak oor. Pak dan ‘n laag sampioene en bedek dit met gerasperde kaas. Gooi die helfte van die roommengsel oor. Herhaal die proses nog ‘n keer om nog ‘n laag te bou. Bedek die bak met ‘n deksel of foelie en laat dit vir ‘n uur teen 180% in die oond deurkook. Bedien warm en geniet.