21
Sat, Dec

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Die afgelope twee weke het ons gesorg dat ons mense ‘n bietjie meer gesond eet en darem so af en toe die waarde van goeie groente en vrugte in byvoorbeeld ‘n gesonde slaai besef. Nee, ons oumas was reg - dit is belangrik dat ons die groente op ons bordjies eet en dit hoef glad nie so moeilik te wees om dit te geniet nie. Ja, ‘n regtige lekker slaai is darem ‘n bietjie makliker om van te hou en te maak hoor!

Lynette Venter maak in hierdie uitgawe vir ons ‘n heerlike gesonde slaai wat boonop pragtig lyk en rond dit af met smaaklike sampioen-gevulde hoenderborsies wat met ‘n paar snytjies Parma-ham toegedraai is. Vir ‘n bietjie variasie kan ‘n mens net sowel seker ook ‘n paar repies spek gebruik? Lynette maak dit só:

Bestanddele
15 g botter 
150 g Portobello-sampioene fyngekap
‘n handjievol salieblare, grofgeskeur
4 ontvelde hoenderborsies
150 g volroom-roomkaas (soos Philadelphia?)
1 teelepel volgraan-mosterd
sout en varsgemaalde swartpeper
4 tot 8 snye Parma-ham

Metode
Voorverhit die oond tot 200°C. Smelt die botter oor hoë hitte in ‘n pan en braai die sampioene vir sowat 5 minute tot sag en tot alle vloeistof verdamp het. Roer gereeld. Voeg die salie by en braai vir nog ‘n paar sekondes. Hou die pan eenkant om af te koel. Hou die een kant van die hoenderborsies heel, nes broodrolletjies en sny dit horisontaal in die helfte. Vou dit soos ‘n boek oop en plaas dit tussen twee velle bakpapier of kleefplastiek. Rol dit met ‘n koekroller effens platter as dit vir jou makliker is. Roer die roomkaas, mosterd en geursel by die sampioene in die pan. Verdeel die mengsel tussen die vier borsies of hoeveel jy ook al maak (jy sal die resep moet aanpas...) en skep die borsies vol van die mengsel.

Draai een of twee stukkies Parma-ham om elke borsie om die vulsel binne te hou en plaas die borsies op ‘n bakplaat. Bak die borsies vir 20 tot 25 minute in ‘n oond tot borrelend warm in die middel. Bedien met ‘n heerlike, gesonde slaai.