21
Sat, Dec

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ons reeks met VLU-dames in die Platinastreek van die Vrouelandbou-unie begin so stadig maar seker einde se kant toe staan en ‘n mens wonder of jy ooit daarin sal slaag om al die beste, lekkerste en mees tradisionele Suid-Afrikaanse resepte en disse met ons lesers te deel en hulle sodoende te help om ‘n stukkie van hierdie kultuurskat vir hul kinders te bewaar. Vandeesweek ‘n interessante storie... Marelize Church van Rustenburg is in baie kringe bekend - eiendomme, sakevrou, spyseniering en ja - tot van gholf kan jy haar min vertel. Marelize is die vierde van vyf kinders en het as “hotelkind” op die dorpie Alice in die Oos-Kaap grootgeword. Marelize se ouers het albei die hotelle op dié dorpie besit en die kinders moes van kleins af leer om gereeld maar veral naweke en vakansies ‘n bietjie handjie by te sit. So ja, van kos maak kan jy Marelize ook nie veel vertel nie. Sy het onlangs ‘n lid van die VLU geword.

Ons was gelukkig om Marelize, haar sus en haar moeder op een slag in die kombuis bymekaar te kry waar hulle vir ons gewys het hoe hulle daarvan hou om hoenderpastei en ‘n lekker somerslaai te maak.

Kook die volgende saam:
2 heel hoenders  
3 wortels in stukke gesny
3 stukke seldery
1 ui,grof gekap
1 suurlemoen, in stukke gesny
6 peperkorrels
‘n paar takkies vars salie
1,5 liter koue water
sout

Kook in groot kastrol tot hoender sag is (sowat 2 ure) en laat afkoel. Haal vleis van bene af, verwyder vel en sny in blokkies. Gooi vloeistof deur ‘n sif en gebruik van die aftreksel saam met die vleis.

Braai saam:
4 groot preie of 8 kleintjies fyn gesny
1 pakkie spek in blokkies gesny
Skil van 1 suurlemoen
Voeg 2 koppies witwyn by en laat afkook
Voeg 2 koppies volroom gewone jogurt by

Koppie aftreksel
Voeg hoendervleis by.
Sout en peper na smaak
Skep in klein bakkies en bedek met deeg en bak 15 minute teen 220°C grade

Pasteideeg:
4 koppies koekmeel
500g botter
¾ koppie water
5ml kremetart
2 eiergele
5ml sout
Gooi alles gelyk in Kenwood en meng met “K-beater” (of kry jou man of seun om te help as jy dit met die hand moet doen).
Rol uit met meelblom.
Somerslaai (opsioneel)
Gemende babablare (“Baby leaves” soos roket...)
Gesnyde aarbeie
Groen druiwekorrels
Gesnyde appels
Volroom gewone jogurt
Fetakaas
Cranberries (bosbessies)
Pecanneute
Kruisementblare
Pak alles in lagies en bedien dadelik... Al te lekker!