21
Sat, Dec

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

My ma se hoenderpastei was my hele lewe lank die middelpunt van spesiale geleenthede.
Verjaarsdagvieringe was volmaak met die lieflike geure en die goudbruin kors van daardie pastei. ‘n Kerstafel was nie volledig sonder ma Anna se hoenderpastei nie en Nuwejaar sou beslis minder voorspoedig gewees het indien die pastei nie vir ete op die tafel was nie.
My ma het nooit dié resep neergeskryf nie, gevolglik, na haar dood, moes ek talle probeerslae uitvoer – sommige met meer sukses as ander.
Na deeglike ‘trial and error’ dink ek ek het by ‘n gereg uitgekom wat byna by hare sou kon kers vashou.

Bestanddele:

Groot hoender, rou
Knippie Naeltjies
Knippie Neutmuskaat
Knippie Roosmaryn
Knippie gemaalde Swartpeper
Knippie Paprika
Braaivleisspeserye
2 x medium Uie
3 x medium Wortels, geskil
1 x pakkie Sampioene
1 x pakkie Spicy chicken soppoeier
250ml melk
1 x koppie klein pastaskulpies
400ml Water
1 x rolletjie Puff Pastry
1 x Eier, aangemaak met ‘n bietjie melk (om bo-oor te verf)

Metode:

Plaas die hoender in ‘n groot pot met genoeg water om dit halfpad te bedek. Geur met Naeltjies, Neutmuskaat en Roosmaryn. Kook tot hoender gaar is, maar nie pap nie.
Laat deeglik afkoel.
Ontvel en ontbeen die hoender.
Sny uie fyn en wortels in dun ringetjies.
Kerf sampioene.
Braai uie in botter tot blink.
Voeg Braaivleisspeserye, Swartpeper en Paprika by.
Voeg wortels en sampioene by en roerbraai vir ‘n minuut of twee.
Voeg die ontbeende hoender by en roerbraai.
Gooi die water waarin die hoender gekook het deur ‘n sif om seker te maak fyn beentjies glip nie in nie en voeg die hoenderwater dan by jou mengsel.
Maak die pakkie sop met ‘n koppie melk aan en voeg by hoendermengsel.
Voeg die pastaskulpies, asook die 400ml water by en roer goed.
Sit die pot se deksel op en kook vir sowat 30 min.
As die mengsel te dik is, voeg nog ‘n bietjie water by.
Laat effens afkoel en skep dan in jou gesmeerde pasteibak.
Rol die pasteideeg uit en plaas oor die vulsel.
Prik die deeg hier en daar sodat stoom kan ontsnap.
Verf met geklitse eiermengsel.
Plaas in voorverhitte oond en bak teen 200° vir 15 min.
Verminder hitte na 160° en bak vir ‘n verdere 15 min of tot mooi goudbruin.
Bedien saam met groente en slaai.

*Lewer een groot pastei of twee medium pasteie.