21
Sat, Dec

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Na die kwaai reën van voorverlede week en ‘n paar bitterkoue dae sedertdien spog die meeste spyskaarte met gunstelinge en maklike happies wat die innerlike ‘n bietjie warmer maak en ja, sommer die siel ook verkwik soos die radio elke naweek sê. Foto’s van sneeubedekte berghange op TV en al wat koerant is, is te pragtig maar is nou nie juis iets wat ‘n mens se hart laat warm klop nie nê?

Nee, vir vandeesweek se bietjie warmte sorg Orange Grove Restaurant net ‘n hanetreetjie buite die stad op die Johannesburgpad. Johan en Madeleine Scholtz is die nuwe eienaars van die Orange Grove Restaurant (voorheen van Geelhout Teetuin) waar Johan as sjef die pot aan die kook hou en Sonné Groenwald as restaurantbestuurder optree.
Toe die spyskaart bespreek is, het Johan sterk aangedring op ietsie so ietwat “warms” en ons is uiteindelik met ‘n tradisionele gunsteling verras. Johan se muti teen die winterkoue is niks anders nie as peri-peri hoenderlewertjies met mieliepap – regte winterkos! As jy genoeg vir so 4 tot 5 porsies wil maak, het jy die volgende nodig:

Bestanddele:
500g skoongewate hoenderlewertjies; 
2 mediumgrootte uie – gekap;
1 groot groenrissie – gekap;
2 mediumgrootte tamaties – gekap;
¼ koppie vars room;
¼ koppie water;
½ teelepel sout;
1 eetlepel peri-peri speserye (dalk ‘n bietjie meer vir ‘n warmer smaak);
1 eetlepel paprika;
3 eetlepels blatjang;

Metode:
Braai die uie, groenrissie en lewertjies in die olyfolie tot feitlik gaar. Voeg tamaties by. Meng die speserye, sout en blatjang met water en roer versigtig by die lewertjies.

Voeg die room by en prut vir 3 minute terwyl dit versigtig geroer word. Bedien op gaar mieliepap – dit is mos nou ‘n egte wintersontbyt of ‘n heerlike happie vir enige tyd tussenin, aldus Johan.

Diegene wat dalk nie kans sien om die hoenderlewertjie-resep self te probeer nie, kan ons sonder enige twyfel aanraai om by die Orange Grove Restaurant aan te doen. Orange Grove Restaurant is bekend vir heerlike tradisionele boeregeregte maar en ‘n wye verskeidenheid vleisgeregte wat onder meer met regte mieliepap bedien word.

Spring in die motor en hou koers in ‘n oostelike rigting (Magaliesburg). Draai regs in by Orange Grove-sentrum sowat 600 meter voordat jy die Rex-kruising sou oorsteek en sê Bon Appetit!