21
Sat, Dec

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Sedert daar so 'n paar ligte buie reën hier in ons streek uitgesak het, is dit asof daar smiddae en saans so ietwat van 'n koel luggie deur die lapa trek en 'n mens kan dit darem nou weer waag om effens naby aan 'n vuur te staan. Ja-nee, die afgelope Desember-vakansie se temperature is sekerlik nie iets wat ons maklik sal vergeet nie en ten spyte van 'n vakansiestemming was daar seker lanklaas 'n maand waarin mense so min vure aangesteek het.

Vir die volgende maand of twee blyk die kanse vir reën volgens die SA Weerdiens nie te sleg te wees nie en ons hoop dat El Nino sy wyk sal neem sodat ons mense veral oor naweke ons gebruiklike somersaktiwiteite kan hervat. Wat is nou lekkerder as 'n heerlike, reënerige aandluggie wanneer jy in die lapa om 'n vuurtjie sit en luister hoe jou potjie prut of 'n vleisie met 'n effensie brandsmakie op jou braairooster "skroei"?

Van brandsmakie gepraat - ons het die afgelope naweek self so gemaak en saam met kollega Lezel Smith 'n braairooster vol sappige stukkies hoender met 'n al te pikante peri-peri-sousie gepak en salig agteroor gesit terwyl die weerlig kort-kort beloftes van 'n vroeëaandreëntjie gemaak het. Hoewel die amptelike naam van ons hoendertjie peri-peri-hoender was, kon dit net sowel Portugese hoender gewees het - jy weet - soos die gewilde "flattie" wat 'n mens sommer by die supermark koop?

Lezel het self 'n bietjie ondervinding van hoe die Portugese gemeenskap daarvan hou om hul hoender voor te berei en het vir ons hierdie baie eenvoudige reseppie saamgestel. Jy maak dit so:

Peri-peri-sous:

'n Handvol of wat groen- en rooirissies in kleinerige stukkies gekap
'n paar eetlepels kookolie
So twee teelepels knoffel
'n Paar goeie strooie hoenderspeserye
'n knippie sout
As jy werklik wil - 'n halwe glasie lekker witwyn (opsioneel).

Metode:
Meng bogenoemde bestanddele deeglik saam. Pak jou stukkies hoender in 'n bak uit. Bedek met die peri-peri-sous. As jy kan, maak die bak toe en laat staan vir 'n dag of wat voordat jy jou braaivuur aansteek. As die bak toe is - is dit 'n goeie idee om dit so een- of tweekeer goed te skud en om te draai voordat jy dit weer neersit.
Die peri-peri-hoender kombineer uitstekend met sogenaamde Portugese of gewone broodrolletjies en as jy voel daar is nog 'n plekkie vir 'n ietsie ekstra - doodeenvoudige skyfies - (slap chips) met lekker sout en asyn. Onthou om jou stukkies hoender vir 'n paar minute in die mikrogolf skrik te maak voorat jy dit op die rooster sit. Bon appetite!