Hierdie week kies ons koers Brigadoon toe – net so ‘n hanetreetjie vanaf die bekende Wigwam Aftree-oord. Sonja Dekker en haar gesin het jare gelede al vir hulle hier ‘n pragtige “wegkruipplekkie” aan die voet van die Magaliesberg uitgesoek en dit is waar hulle naweke hulle heil vind. Met ons inloer was daar boonop kuiermense – Sonja se ma (Annetjie de Villiers) van Klerksdorp het kom kuier en die twee dames het sommer saam ingespring om vir ons ‘n bekende, maklike maar baie lekker hoenderpastei en ‘n ewelekker koolslaai te maak. Dit is ‘n heerlike kombinasie – probeer dit gerus!
Hoenderpastei:
Bestanddele:
6 hoenderfillette
(geen sout wanneer jy dit kook).
250 g sampioene
1 groot ui
1 Pak Royco Cream of Chicken
1 Pak Royco Cream of Mushroom
500 ml room
Metode:
Kook die hoenderfillette tot gaar en sny fyn. Braai fyngesnyde sampioene en fyngesnyde ui. Meng altwee soppoeiers met die 500 ml room. Meng met hoender en gebraaide sampioene en uie. Vir die deeg kan jy sommer twee lagies foeliedeeg (philo pastry) gebruik of jy kan jou eie maak. Maak dan so:
Rol deeg uit. Spuit groot Pyrex-bak met Spray n Cook. Plaas eerste laag deeg onder in die bak. Skep die bak vol met jou hoendermengsel. Rol nog ‘n laag deeg uit en plaas bo-oor die beslag. Klits 1 eiergeel met ‘n bietjie melk en smeer bo-oor die pastei. Bak vir 1 uur teen 180°C. Laat effens afkoel en val weg! Dit is heerlik om saam met slaai of skyfies te geniet!
Kool slaai:
Bestanddele:
1 halwe kool
3 wortels
250 g pitlose rosyne
1 klein rooikopkool
Metode:
Sny bestanddele in fyn stukkies en meng met ‘n sous van Mayonnaise, kondensmelk, ‘n bietjie blatjang, mosterdpoeier en sout en peper. Gebruik ‘n bietjie melk om die beslag so ‘n bietjie loperig te maak. Indien jy nie kondensmelk in die spens het nie, gebruik sommer ‘n skeppie suiker tot dat dit soet genoeg is na jou smaak. Jy kan ook die Mayonnaise halveer en Bulgaarse joghurt gebruik. Bedien saam met hoenderpastei en jy het ‘n fees!