20
Mon, May

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Nee wat man – jy hoef nie regtig Zanzibar toe te gaan om ‘n lekker eksotiese vakansiegevoel te kry nie. Kry vir jou ‘n lekker naweek (of ‘n plaaslike vakansie) en sorg dat jy Thania le Roux (ja, Thania van Wings Spinning Studio – dit maak glo nie vet nie…) se Zanzibar-hoender-resep styf onder die arm het. Hierdie is ‘n gereg wat absoluut sensasioneel smaak – dit is nie ‘n verrassing dat Thania ‘n slag in die kombuis het nie – kos maak loop sommer dik in die Le Roux’s se bloed – Thania is die dogter van Rustenburg se bekende spysenierspesialis – Espa le Roux.

Thania is bekend as gesondheidsbewuste fietsryer en Ysterman (of is dit nou “Ystervrou?) -deelnemer maar is nie skaam vir ‘n lekker (maar gesonde) ete nie. Die Zanzibar-hoender is een van Thania se gunstelinggeregte. Ons het eintlik vra vir ‘n gesondheidshappie, maar is baie dankbaar vir die smaaksensasie – dankie Thania!

Bestanddele
2 kg hoenderborsies; 
4 groot uie;
250 g wortels;
250 g patats;
75 – 100 g “sugar snap peas”
250 ml rooilensies;

Marinade:
15ml fyngekapte knoffel & gemmer;
1 blikkie ligte kokosneutsap (of 500 ml Griekse joghurt vir ‘n “slanker” weergawe;
Vars koljander;
Mother in Law-masala na smaak;
5 ml komyn;
15 ml medium kerriepoeier;
15 ml borrie;
25 ml groen kerriepasta;
5 ml saffraan;
10 ml sout;
Basmati-rys (of Roti vir ‘n verslanker/gesondheidsweergawe).

Thania maak die Zanzibar-hoender soos volg:
Sny die hoederborsies in blokkies en marineer oornag. Braai fyngekapte uie in ‘n eetlepel olyfolie, maak deksel toe en laat vir 10 minute prut. Voeg die blokkies hoender met ‘n bietjie van die marinade by en braai die hoeder tot effens bruin. Voeg ook die wortels, patats, lensies en die res van die marinade by en voeg die “sugar snap peas” heel laaste by.
Bedien jou Zanzibar-hoender met ‘n titseltjie vars koljander op gestoomde Basmati-rys of in ‘n Roti. Vir ‘n laevet-weergawe kan jy soos vroeër vermeld Griekse joghurt instede van kokosneutsap en gestoome rys in plaas van ‘n Roti gebruik.
Hierdie is ongetwyfeld ‘n resep wat bolangs in die resepteboek gebêre moet word. As die gesin eers een keer op hierdie heerlike gereg getrakteer is, sal dit beslis hoog op die prioriteitslys wees. Dankie Thania – absoluut heerlik!