In hierdie uitgawe van ons gewilde “Raak die ‘klits’ kwyt” het ons twee jong aspirant-kosmakertjies (sjefs) nadergetrek en hulle gevra om vir ons iets heerlik warms (maar nie winterkos nie!) voor te berei sodat ons die nat, klam en drukkende weer van die afgelope paar weke kan vergeet. Nouja, in Afrikaans het ons die pragtige uitdrukking van iemand wat die “wilde perd opsaal” vir wanneer iemand iets aandurf wat eintlik so ‘n bietjie bokant sy/haar vuurmaakplek is. Shani Kuik (15) en haar “kollega” Tshembhani Mashimbye (12) is toevallig ook aspirantmodelle by Rustenburg se bekende GML Modelskool waar hulle spreekwoordelik deur die passies van ‘n mooi nooi gesit word en het dit goedgedink om vir ons “ma se maklike beesstertgereg” en “ma se wonderlike “wortelkoek” te maak. Met hierdie kosmaaksessie (en seker talle ander wat hulle nog by aan moederskant gaan ontvang) gaan daar eendag vir die mans in hul lewens gewis meer wees om te waardeer as net ‘n pragtige gesiggie. So ja, die mammies het maar kwaai handjie bygesit en raad gegee en Sjani en Tshembhani het taamlik ongeskonde aan die anderkant uitgekom.
Ma se wonderlike beesstertgereg
Bestanddele:
2 Beessterte
1 middelgrootte ui
1 Groenrissie
1 Knoffelhuisie
5 Lourierblare
Halwe bottel rooiwyn
2 Koppies water
Olyfblare soos nodig
Speserye: “Steak & Chops” na smaak
Aromat na smaak
Koekmeel, ‘n halwe pakkie beesstertstop, 5 naeltjies, swartpeper na smaak
Maizena
Groente waarvan jou gesin hou
Braai ui en groenrissie tot bruin in olyfolie, rol beesstert in koekmeel, voeg speserye by en braai saam met ui en groenrissie. Voeg knoffel en loerierblare by. Gooi rooiwyn en water by en laat prut tot groente sag is.
Voeg dan sous (beesstertsop, blokkie of twee beesvleisaftreksel en Maizena by. Laat stadig kook todat die sous deurgekook is. Bedien met rys of Ciabata-brood.