21
Sat, Dec

Baked Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Met ons kort reeks kookartikels met lede van die Rustenburg-tak van Rotary International wat reeds die afgelope agt weke strek, is ons vir die soveelste keer in wie-weet-hoe-lank “gekonfronteer” deur die absoluut wonderlike geur en smaak van die tipies Suid-Afrikaanse malvapoeding, ‘n poeding wat sekerlik saam met Jan Ellis-poeding, sago, en/of souskluitjies van die gewildste en lekkerste poedings in ons land is. Dit is natuurlik hoe die soettande daaroor sal voel - ons besef dat daar baie mense is wie se soettande lank reeds getrek is en wat iets anders vir ‘n nagereg sal verkies. Maar met die jongste Rotariër-kook by die huis van Mike en Amanda Agathagelou het ons net weer bewus geword van die wonder van ‘n opregte malvapoeding. Ons het aanvanklik gemeen “nee wat, almal ken ‘n malvapoeding” - maar later besef dat baie mense waarskynlik nog nie hierdie lekkerny probeer het nie. Boonop was Johann Krugel - President van Rustenburg Rotary - se vrou (Angela) se malvapoeding uit die boonste rakke en ons kon net eenvoudig nie anders as om hierdie heerlike resep aan te bied nie.
Angela Krugel is blykbaar ‘n regte “Engelsman” soos wyle Pieter Pieterse se “Jenny” was - ‘n Ingelsman uit murg en been. Maar sy weet hoe om ‘n lekker poeding te maak... Angela maak haar malvapoeding so:

Bestanddele
250ml (1 koppie) meelblom 
5 ml (1 tl) koeksoda
5 ml (1 tl) appelkooskonfyt
15 ml (3 tl) Margarien
250 ml (1 koppie) melk
1 eier
250 ml (1 koppie) suiker
5 ml (1 tl) suurlemoensap

Metode
Room botter en suiker en voeg die eier by. Voeg dan suurlemoensap, koeksoda en appelkooskonfyt by. Roer meel en melk om die beurt by. Bak teen 180 °C vir een uur in 'n glasbak.
Stroop
250 ml room
125 ml Margarien
250 ml suiker
125 ml kookwater

Metode
Kook alles saam vir 2 minute en gooi oor die poeding sodra dit uit die oond kom. Bak tot karamelagtig en haal uit - hou verkieslik warm totdat jy dit bedien. Andersins kan dit liggies voor dit bedien word sommer in die mikro warmgemaak word. Jong dames wat hoop om hul skoonma's of pa's te beïndruk, hoef nie regtig veel verder as 'n lekker malvapoeding te kyk nie. As 'n poeding na 'n eenvoudige hoendergereg of sommer na 'n braai wat manlief vir jou maak, gaan jy ongetwyfeld 'n gunsteling onder die skoonfamilie wees...