21
Sat, Dec

Baked Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Dit is lekker skoolvakansie, dit is behoorlik vrekwarm en ons is klaar met die reeks oor wildresepte. Rustenburg Herald se kookspannetjie is nou besig met nog 'n reeksie oor etniese, kultureel-tradisionele resepte. Dit is omtrent 'n mond vol - maar in beginsel beteken dit enigiets wat jy in jou kultuur onder jou mense van ou Suid-Afrikaanse tradisies oorgelewer gekry het... 

En in terme hiervan het ons al baie gehad, elke ou se gunstelinge is mos maar etnies, kultureel-tradisioneel nie waar nie. Maar terwyl die kinders nou soggens laat slaap (omdat hulle saans laat gaan slaap) en die huidige temperature nie 'n man of vrou se maat is nie, is 'n mens nie lus om in 'n warm kombuis te staan en spook vir 'n lekker vakansie-ontbyt nie. Wat van iets makliks en lekker ligs soos "scones". Ja, dis 'n Engelse naam maar so Afrikaanse as wat 'n mens kan kry.
Christine Dercksen - 'n voormalige Rustenburger wat deesdae in Worcester in die mooie Kaap woon, het vir 'n paar dae by haar kinders kom kuier en sy en haar skoondogter - Tanya Wagner - slaan vandag vir ons n lige ontbyt met heerlike varsgebakte scones aan. Met 'n bietjie verbeelding kan 'n mens baie vermag soos Christine en Tanya hier doen!

Hulle maak hulle scones so:

Bestanddele
250 ml suurroom
1 eier
15 ml suiker (1 eetl)
1 teelepel sout
2 koppie meel
15 ml bakpoeier (1 eetlepel)

Maak dit so:
Klits die room en eier saam. Voeg die suiker en sout by. Sif die meel en bakpoeier saam. Gooi by die eiermengsel en meng met die vingerpunte of 'n slaplem-mes tot net gemeng. Rol deeg uit (nie te dun nie) en druk met 'n ronde drukker uit. Sit op koekieplaat wat gesmeer of gespuit is. Smeer met melk wat gemeng is met geklitste eiergeel.
Bak vir 10 - 15 min in oond op 200°. Haal uit en laat rus om af te koel. Breek oop en bedien met konfyt, room, kaas en varsgebakte bacon. (As jy 'n bietjie anders wil wees - kan die suurroom vervang word met 250ml karringmelk of 250ml dubble thick joghurt).