In hierdie tyd van die jaar wanneer baie matrieks begin skarrel en groot bekommernis het oor hul toekoms, is ED Lourens nie net opgewonde nie, maar rotsvas-seker oor sy toekomstige loopbaan – hy gaan sjef word!
Sy ma is dit eens dat dit glad nie moeilik is om vir hom verjaardag- of Kersgeskenke te koop nie – ED het reeds sy eie stel panne, ‘n “gunsteling-wok” en is ook die trotse eienaar van ‘n “Larousse Gastronomique”, dié “kook- en bak Bybel” wat alles moontlik verduidelik aangaande resepte, wenke, kookstyle en selfs die oorsprong van die wêreld se mees bekende resepte.
Maar soos enige “goeie Boerseun” het ED aan die hand van sy ouma Wilma Rabe leer bak en hy het juis die eerste keer in sy lewe met Jan Ellis-poeding kennis gemaak in haar kombuis.
ED is egter van die moderne/jonger generasie en daarom het hy een van sy familie se gunsteling-resepte met sy eie persoonlike aanslag omskep in die heerlikste, sappigste gebakte poeding wat in die lugbraaier gemaak word. Hy het ons gewys hoé…
Bestanddele vir beslag:
5 ml Koeksoda
1 Koppie melk
1 Koppie bruismeel
2 Groot eiers
2 Eetlepels appelkooskonfyt
2 Eetlepels sagte botter/margarien
1 ml Sout
Bestanddele vir sous:
1 Koppie suiker
1 Koppie room
1 Koppie botter/margarien
1 Koppie water
5 ml Vanieljegeursel
Metode vir beslag
Verroom suiker en botter in ‘n mengbak
Voeg konfyt by en meng saam
Meng die eiers by die mengsel en klits goed
Voeg die melk en meel om die beurt by tot alles in gevoeg is
Spuit bakpan met kleefvrye sprei en gooi al die beslag daarin
Sit die bak in die lugbraaier teen 145 °C vir 45 minute
Toets dat die poeding heeltemal gaar is voor dit uit die lugbraaier gehaal word
Metode vir die sous:
Gooi die suiker, botter, room en water in ‘n kastrol en sit op die stoof
Laat alles saam smelt en bring tot kookpunt
Laat kook vir 5 minute
Haal van die hitte af en voeg die vanieljegeursel by
Eindmetode:
Haal die warm poeding uit die lugbraaier en prik gaatjies in vir die sous om in te trek
Gooi die sous bietjie-vir-bietjie oor die poeding (dis nie nodig om al die sous te gebruik nie)
Sit die bestrooide poeding terug in die lugbraaier, maar moet dit nie aan sit nie en laat staan die baksel vir ten minste 10 minute om ordentelik in te trek
Bedien warm met vla of roomys.

