20
Fri, Sep

Bread / Dough
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Agri-Pulse-Vryburg – Wat eet ons vanaand?
Dit is `n algemene vraag en met die laaste skoolkwartaal van die jaar wat so te sê verby is, sien almal uit na `n blaaskansie.

Agri-Pulse sluit 2019 af met `n kuier by Riana Swanepoel van Kameelboom Lodge & Padstal buite Vryburg.
Riana, met behulp van die Lodge se handige sjef, Dyson Bato wys vir ons hoe om in `n japtrap `n heerlike Roosterkoek-burger aanmekaar te slaan. Met die somer wat behoorlik sy intrek kom neem het wil mens nie heeldag voor die warm stoof staan nie en is die dis ideaal.
Riana vertel dat sy van kleins af lief was vir die kombuis.
Sy het gedurende skoolvakansies saam met haar ouma voor die stoof deurgebring en van pannekoek, vetkoek en soveel meer geleer.
Later in haar skoolloopbaan het sy by die Hotelhoudingklas aangesluit waar sy na hartelus kon bak en brou.
Riana is ook in dié omgewing bekend vir die heerlike Lasagnes en ander geregte wat sy op aanvraag maak.

Roosterbrood:

Bestanddele:
•    500ml warm water
•    10g suurdeeg
•    2 teelepels bakpoeier
•    2 teelepels witsuiker
•    1 teelepel sout
•    5 koppies meel
•    2 teelepels kookolie

Metode:
•    Gooi 250ml warm water en die suurdeeg in mengbak.
•    Gebruik ‘n houtlepel en meng goed deur.
•    Voeg suiker en sout by.
•    Volgende kan die vyf koppies meel en bakpoeier bygevoeg word.
•    Meng alles weer goed saam met die houtlepel.
•    Gebruik jou hande en vou die deeg liggies in totdat `n medium tekstuur bereik word.
•    Indien die deeg aan jou hande vasklou, gooi nog `n bietjie meel by.
•    Was hande, gooi 5ml kookolie op jou hande, vou die deeg nog in en vorm `n groot bal.
•    Plaas in groot bak, maak toe met kleefplastiek en laat staan vir `n uur.
•    Nadat deegmengsel gestaan het druk in balle en braai in die riffelpan.

BURGER PattY-vulsel:

Bestanddele:
•    2 pers uie
•    1 pak sampioene
•    Halwe teelepel kerriepoeier
•    Sny alles fyn en braai saam in `n pan tot gaar.

Maalvleis-PattY:

Bestanddele:
•    1kg maalvleis
•    3 Eiers
•    1 handvol koekmeel
•    Sout en peper na smaak
•    Braaisout na smaak

Metode:
•    Sit 1kg maalvleis in mengbak en voeg sout, peper en braaisout na smaak by.
•    Klits die eiers liggies in `n aparte bak en voeg dit ook by die maalvleis.
•    Skep vleis in `n patty-drukker (of vorm patty met die hand).
•    Maak seker daar is genoeg spasie vir die vulsel.
•    Skep een eetlepel vulsel in elke patty en druk toe.
•    Maak seker die vulsel loop nie langs die kante uit nie.
•    Laat staan in yskas vir een na `n halwe uur en braai dan in pan tot gaar...

•    Wanneer die Roosterkoekburger voorberei word, word daar twee skyfies tamatie, `n skyfie ui, `n skyfie kaas, een gevulde vleis-patty, `n skyfie pynappel, twee of drie eetlepels kaassous en twee eetlepels guacamole tussen die twee roosterkoekhelftes gesit.
•    Die burger word dan op `n houtplank met aartappelskyfies bedien.
•    `n  Groot steakmes word deur die burger en die bord gedruk om seker te maak dit val nie uitmekaar nie.