In hierdie week se uitgawe van ons Kook-bladsy het Rustenburg Herald by Chantel du Plooy van Platinum Food Solutions gaan inloer. Chantel is al bykans ‘n dekade in die kosbedryf en sê sy het half in die bedryf “ingeval” toe sy in 2019 by ‘n plaaslike slaghuis begin werk het. Sy het stelselmatig leer kos maak en bak en deesdae is haar sterkpunt in die kombuis soetgoed en nageregte. Sy sê die beste deel van haar werk is as mense ná ‘n suksesvolle funksie hul waardering uitspreek vir die lekker kos wat bedien is. Sy waarsku egter dat hierdie week se resep van roomkaramel-meringue eerder vir gesoute bakkers is – veral as die deeglaag van “scratch” af gemaak word. Dié van ons lesers wat dalk bietjie selfvertroue en kundigheid in die kombuis kort, kan gebruik maak van ‘n reeds gebakte korslaag wat by jou plaaslike tuisnywerheid aangeskaf kan word en dan kan jy baie kreatief eksperimenteer met die vulsel en versiering.
*Skakel Platinum Food Solutions by 076 508 6828.
Bestanddele:
12 Ekstra groot eiers (geskei)
1 Koppie strooisuiker
1 Blik Caramel Treat
500ml Room (styf geklits)
2 Eetlepels asyn
2 Eetlepels Maizena
2 Teelepels “Vanilla Essence”
Vars aarbeie
Vars kruisement
Meringedeeg
• Klits eierwitte tot sagte punte vorm
• Klits die strooisuiker bietjie-vir-bietjie by totdat die mengsel punte vorm
• Klits die Maizena, asyn en “Vanilla Essence” by
• Voer ‘n koekpan van ongeveer 24cm uit met waspapier
• Giet die eierwitmengsel in die koekpan en bak vir 45min teen 150°C
• Haal uit en bak dan weer vir ‘n verdere 30min teen 100°C
• Laat die deeg goed afkoel
Chantel waarsku dat die deegmaak-proses fyn tegniek verg, en daarom, as jy nie ‘n geoefende bakster is nie, is dit waarskynlik makliker om die deegvorm te koop by ‘n tuisnywerheid.
Versiering
Versier in lae soos verlang, deur die geklopte room en karamel om die beurt oor die deeg te smeer.
Chantel het die karamel tussen die twee lae gesmeer, met die room rondom die meringe-deeg.
• Wenke – gebruik die eiers by kamertemperatuur. Bak die deeg vooraf en laat dit oornag staan om goed uit te droog.


