29
Wed, Oct

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In die hedendaagse ekonomie waarin ons die beursies maar liewers moet toehou, behalwe vir net-die-nodigste-inkopies, wil mens darem nou nie geheel en al van die soetgoedjies afskeid neem nie, die lewe is bitter genoeg…
Daarom het Monja van Stadin, onderwyseres en ma van twee woelwaters, hierdie week aan Rustenburg Herald haar weergawe van “bokskoek” opgetower. Sy noem tereg dat dit eenvoudig net te duur geraak het om vragte bestanddele te koop wat dan grootliks in die kombuiskaste staan vir maande – tot die volgende koekbaksessie. 
Monja en haar ma, Marthie Ackermann (eertydse onderwyseres) het dus die afgelope skoolvakansie kragte saamgespan en die heerlikste, sjokolade-sjokolade koek gemaak wat na ‘n dag of twee in die yskas steeds heerlik klam en watertandlekker is.
Marthie sê dat sy by haar ouma leer bak-en-brou het en so het Monja ook by háár ouma van kombuisvernuf geleer. Nou, as die ouma van drie kleinkinders, geniet Marthie dit ook om saam met die jongspan (veral) koekies te bak in die Kerstyd. 

Egter, het ma en dogter maar min tyd om saam te woeker in die kombuis en hiérdie koekbaksessie was dus ideaal om kosbare ma-en-dogter-herinneringe te maak. 

Bestanddele vir koekmengsel
- ‘n ryk, romerige dubbellaag-sjokoladekoek
1 Pak Golden Cloud sjokolade-koekmengsel
3 Groot eiers
250 ml Melk
100 ml Sonneblomolie
Cook ‘n Bake kleefvrye sproei 

Metode vir koekbeslag
• Voorverhit die oond tot op 180 °C
• Sprei ‘n oondpan van ongeveer 20 cm deurslag met Cook ‘n Bake kleefvrye sproei. Monja gebruik ‘n oondpan met ‘n gat in die middel, om die koek ‘n meer unieke voorkoms te gee
• Meng die vloeistowwe en eiers saam
• Voeg die koekmengsel in ‘n mediumgrootte mengbak en voeg dan die koekmengsel by die vloeistowwe by (nié anders om nie)
• Gebruik ‘n spaan om die bestanddele te meng. Moenie dit óórvermeng nie
• Klits die bestanddele saam met ‘n elektriese klitser op ‘n hoë spoed. Klits totdat die mengsel  vanaf donkerbruin tot ligbruin verkleur (Monja se “pro-tip” dat die koek nie uitgedroog smaak nie). Maak seker dat al die droë bestanddele ingemeng is deur die kante van die mengbak skoon te skraap terwyl jy klits
• Voeg die mengsel in die oondpan en bak vir ongeveer 45 min – of tot wanneer die beslag nie vasssit aan ‘n mes as jy dit in die middel van die  baksel druk nie. Baktye sal verskil volgens die diepte van die oondpan
• Haal die gaar koek uit die oond en laat dit afkoel vir ongeveer 10 min, haal dan uit die pan uit en laat dit heeltemal afkoel
• Sny die koek horisontaal in die helfte deur (Monja en Marthie gebruik garingdraad, soos hul oumas hul geleer het).

Bestanddele vir versiersuiker
1 Blik Caramel Treat 
1 Pak Golden Cloud sjokolade-versiermengsel
250 g Sagte botter/margarien
45 ml Volroom melk 
1 Eierwit
1 Flake sjokolade (gekrummel)
1 Klein pakkie Whispers sjokolade

Metode vir versiersuiker
• Klits die eierwit totdat dit skuim
• Meng die sagte margarien saam met die eierwit totdat dit lig en romerig is
• Voeg die versiersuikermengsel egalig by en meng met die hand totdat die versiersuiker glad en sonder klonte is
• Voeg die melk by en meng. As die versiersuiker te dik is, voeg nog melk by, totdat die ideale dikte bereik is

Smeer nou die middel van die koek met Caramel Treat en plaas dan die tweede helfte bo-op. Smeer dan die koek aan die bokant en sykante met die versiersuiker. Gebruik alles om ‘n dik laag te verseker. Strooi die verkrummelde Flake bo-oor die koek en versier dan die bolaag van die koek met die Whispers-balletjies.