Annlerie Oosthuizen is ‘n jong dame van Rustenburg wie se hande beslis nie vir koek bak verkeerd staan nie. Trouens, Rustenburgers sal Annlerie waarskynlik onthou vir haar weninskrywing van die lekkerste skokoladekoek “denkbaar” toe sy so twee jaar gelede die eerste plek tydens die sjokoladekoek-bakkompetisie by die Paul Bodensteinpark losgeslaan het. Maar sedertdien het Annelerie selfs meer “wêreldswys” geword nadat die die afgelope twee jaar op gereelde basis ‘n Amerikaner was wat dié land letterlik deurkruis het en tydens haar omswerwinge daar by al wat fees-, kuier-, en kosmaakplek of –stalletjie gewerk het. Jy sal dus jou storie moet ken as jy vir Annlerie enigiets van spyskaarte, resepteboeke of die binnekant van kombuise of kosmaakstalletjies wil vertel – “been there, done that, got the T-shirt”, lui die gesegde mos… Nouja, om haar tydelike terugkeer na Suid-Afrika te vier, het ons Annelerie genooi om vir ons een van haar ikoniese koeke te bak, sy op ‘n laesuiker-bloubessiekoek besluit.
Bestanddele:
4 Eiers
1 koppie suiker
10 ml kremetart
180 ml melk
1 teelepel koeksoda
Metode:
Verhit die oond tot 180°C en berei voor 3 x 20 cm-panne met bakpapier en Spray & Cook. In ‘n mengbak klits die eiers en suiker saam tot lig en romerig. Sif die koekmeel en kremetart saam en vou by die eiermengsel in. Verhit die melk tot kookpunt en roer die koeksoda by. Voeg die melk by die beslag en roer aanhoudend tot dit gekombineerd is. Deel die beslag tussen die 3 panne en bak vir 15 tot 20 minute. Gebruik ‘n toetspen om seker te maak dis gaar.
Vulsel:
2 koppies Bakers Delight room
2 bakkies 230g roomkaas
150 g wit sjokolade
1/2 koppie bloubessie coulis
Metode:
In ‘n mengbak klits die room styf en voeg roomkaas by. Meng en skraap die kante af soos nodig totdat die vulsel glad is. Smelt die sjokolade en voeg egalig by die roommengsel. Moet nie ophou meng/roer nie! Voeg die bloubessie-coulis by en meng deur. Plaas die mengsel in die yskas vir 2 ure tot styf geset.
Om af te rond:
Sodra koek afgekoel het en vulsel geset is, gaan ons ‘n laag vulsel sowat 0.5 cm dik tussen die lae koeke smeer. Die koek word dan verder bedek met ‘n dun laag vulsel en weer in die yskas geplaas vir so 30 min. Daar word dan ‘n dik laag vulsel bo-op die koek gesmeer. Neem ‘n lepel en trek ‘n slootjie al rondom die koek se bo-kant van binne na buite. Vul die slootjie met bloubessie en versier die koek met wit sjokoladestukke.
Oor haar ondervinding by die Yanks, sê Annlerie: Die tyd in Amerika was vir my baie kosbaar. Jy werk een dag in temperature so plus minus 40 C° en die volgende dag is daar ‘n tornadowaarskuwing. Die verskillende plekke is iets om te beleef en daar was elke dag iets nuuts om te sien. Die mense is heelwat anders as hier in Suid Afrika en daar is ‘n groot kultuurverskil. “Self service” kasregisters, BTW wat nie ingesluit is by pryse nie, aan die regterkant van die pad ry, uitspraak van sekere woorde en die verskillende kosse wat die Amerikaners in olie sal braai, soos kaaskoek, hamburgers en Oreos was vir my ‘n groot skok. Daar is geen huis soos jou eie nie en ek is gelukkig om weer in my moederland te wees waar ek my passie verder kan uitleef. Annlerie sal tot einde Maart aanstaande jaar in Suid-Afrika wees voordat sy dan weer na Amerika terugkeer. As jy intussen ‘n werklike droomkoek wil bestel, skakel of Whatsapp haar gerus by WhatsApp nr 071 401 1439.