21
Sat, Dec

Cakes
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Nee, dit is geen grap nie – vandeesweek maak ons “gebrande kaaskoek” (Basque/Burnt Cheesecake) en as joune nie ”gebrand” is nie, kry jy eenvoudig nie volpunte nie. Van volpunte gepraat – twee studente van Rustenburg se Professional Cooking Academy wat vanjaar besig is met ‘n diplomakursus in allerlei vorme van die bakkuns, wys vir ons hoe om jou kaaskoek net reg te “brand” sodat jy volpunte verdien en die gaste aan jou tafel al te heerlik smul. Beide (Aviwe Ngxamde en Khuselwa Nokhamba) is studente van Melissa du Plessis - mede-eienaar en pastry-ghoeroe van Professional Cooking Academy. Ons maak dit so: 

Bestanddele:

750 g roomkaas teen kamertemperatuur
1 koppie strooisuiker
1 ¼ room
¼ koppie koekmeel
1 teelepel Vanilla-ekstrak of smeer 
¾ koppie eiers (4 tot 5 groot eiers)

Metode:

Voorverhit die oond tot 220°C met die rakkie in die middel van die oond. Berei jou oopknip-koekpannetjie voor – druk 2 x 40 cm-velletjies gekreukelde oondpapier in ‘n X-vorm oormekaar in die pannetjie uit en vou oor die kante – jy moet dit verkieslik ‘n bietjie plooi aan die kante sodat jou kaaskoek ietwat rowwe kante het. 
Klop die roomkaas in ‘n groot bak teen medium-spoed vir 2 minute, en krap deurlopend die beslag van die kant af na die binnekant van die bak toe. Maak seker dat dit klontvry en glad is. Voeg die suiker by en klop/meng teen lae spoed vir 10 sekondes. Voeg die koekmeel en room by en meng deeglik – moet egter nie oordoen nie en klop Vanilla by sodra die koekmeel goed deurgemeng is. Gooi eier stadig by terwyl die menger op stadige spoed is. Skakel menger af sodra eiers goed gemeng is om te verhoed dat borrels in die mengsel ontstaan. Gooi beslag in die voorbereide pannetjie.     Klop die pannetjie ‘n paar keer op jou werksoppervlak om borreltjies of blasies te laat ontsnap. Bak vir 45 minute of tot oppervlak bo ‘n lekker diepbruin kleur het. Hou veral ‘n ogie daaroor in die laaste 15 minute want hoewel jy dit lekker goudbruin wil hê, moet dit nie werklik gebrand wees nie. Die middel van die kaaskoek moet steeds effens jellierig voorkom en die koek sal rys soos ‘n “soufflé”. Laat vir minstens 2 ure in die pannetjie afkoel (dit is normaal as dit effens sak). Plaas dan in yskas vir minstens 8 ure voor dit bedien word. 
Onthou - ‘n heerlike pikante, soet of suur sousie is hoogs aan te bevole – ons twee studente het ‘n wonderlike aarbei-suursousie daarby bedien. 
As hierdie vir jou só indrukwekkend lyk dat jy lus voel om sommer self vir die diplomakursus by Professional Cooking Academy in te skryf – kontak die Academy gerus by tel 071 214 3557.