20
Mon, May

Chilled Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

As daar een bestanddeel in Suid-Afrikaners, trouens alle kosmakers, kokers en bakkers regoor die wêreld se “koskaste” is waarvoor ons almal dankbaar moet wees, is dit ondernemingsgees. As dit nie vir ondernemingsgees - eksperimentering - was nie, sou ons almal vandag seker nog presies dieselfde kos en geregte geëet het as wat ons voorvaders en voorgeslagte gereeld op hul tafels gehad het. Met enkele uitsonderings soos braaivleis, potjie en ‘n klompie ander immergewilde happies, doen ons dit nie vandag meer só nie. Ondernemingsgees is die bestanddeel wat daartoe bygedra het dat mense nooit moeg raak om met nuwe smake, bestanddele en metodes te eksperimenteer nie – daarom dat dit nodig is om jou resepteboek minstens eenmaal per jaar op datum te bring. Vandeesweek is ‘n heerlike “nuweling” in die vorm van ‘n maklike tert op ons eie spyskaart. Al gehoor van ‘n “PS-tert”? Wel, ons ook nie, maar boeta, as jy jouself nou in ‘n stroopsoet smaaksensasie wil verloor, hoef jy nie langer te soek nie. Rejaen Marais, ‘n pragtige nooi van Rustenburg wat in 2019 as Mej Rustenburg Herald gekroon is, het hiermee vir ons gewys dat dit nie waar is dat al die soetgoed in die wêreld binnekort gaan opraak nie. En vir die winter se voortdurende holkol op die maag, is die jongste treffer wat teen jou yskasdeur ‘n plekkie behoort te kry.

Bestanddele:

2 pakkies tennisbeskuitjies
1 blikkie karamel
1 klein houertjie vars room
4 x karamel Duo PS-sjokoladestafies (dié met twee stukkies sjokolade in ‘n pakkie sodat ‘n mens kan deel).

Metode:

Klits vars room tot styf. Voeg blikkie karamel by, meng deeglik saam.
Sny of krummel die eerste vier helftes van die PS-sjokolades en voeg by die mengsel.
Pak een laag koekies, een laag vulsel.
Hou aan totdat jy al die vulsel gebruik het. Sny nou die ander vier PS-helftes en versier die bokant van jou tert. Plaas in die yskas todat dit goed gestol is en bedien.